Crime

Rowers oes só duisende in

Die moderne bankrower dra nie meer ’n klapmus en pistool nie. Hy sit êrens gemaklik, gewapen met ’n klompie selfone en goeie internetverbinding en oes met sy gladde mond miljoene rande van naïewe en niksvermoedende bankkliënte in.

Die Modimolle-polisie waarsku inwoners dat hulle weekliks een of twee dossiere open waar veral ouer mense duisende rande kwyt is nadat hulle privaat inligting uitgegee het tydens so ’n slenter.

“Klaers sê dat hulle ’n oproep ontvang van iemand wat sê hy is ’n bankamptenaar en om dit te bevestig noem hy vir hulle van hul besonderhede byvoorbeeld woonadres en ID-nommer. Hulle klink altyd baie professioneel en bekwaam,” het kapt. Ross Rossouw gewaarsku.

Die persoon sal dikwels sê dat hy van die bedrog-afdeling is en ’n verdagte transaksie nagaan wat die slagoffer angstig maak om saam te werk.

Onder die dekmantel dat hulle inligting nagaan en die “verdagte transaksie” wil keer, sê hulle dat hulle ’n SMS sal stuur en die slagoffer moet die nommer aan hulle teruglees om die transaksie te keer. Dit is daar waar die probleem is. Daardie OTP-nommer, wat staan vir ’n “one time pin” gee die beller toegang tot die slagoffer se bankrekening en stel hulle in staat om die selfoonnommer waarna boodskappe gestuur word te verander en geld na ander rekeninge oor te plaas.

“Hierdie soort misdaad is bitter moeilik om op te los. Die kriminele kan enige plek in die wêreld sit en hul selfone is nie geregistreer nie. Sodra hulle besef die polisie is op hul spoor, verander hulle eenvoudig die simkaart in hul selfone. Daar word vermoed dat hulle dikwels buitelanders is en dat hulle moontlik inligting van ’n medewerker in die bank ontvang,” het Rossouw gesê.

Die besonderhede van die bankrekeninge waarna die geld oorgeplaas word, is ook vervals.

Volgens die Bankvereniging van Suid-Afrika word hierdie skelmstreek “phising” genoem waar skelms op ’n slu wyse mense uitlok om private inligting te deel. Dit gebeur ook via e-pos waar ’n skakel gestuur word na ’n webwerf wat bykans nes die ware Jakob van die bank lyk, maar in werklikheid net ’n besonder goeie vervalsing is. Slagoffers word dan gevra om hul besonderhede te bevestig en sodoende kry die skelms toegang tot hul bankrekeninge.

Die bankvereniging waarsku mense om nooit enige rekeningbesonderhede via telefoonoproep of e-pos te deel nie. Geen bank sal hul kliënte op hierdie wyse nader nie. Wanneer hulle wel so ’n oproep ontvang, raai hulle mense aan om die oproep te beëindig en self hul naaste banktak te skakel. Moenie op skakels in e-posse kliek nie, maar gaan eerder direk na jou bank se webwerf en werk van daar af. ’n Limiet op oorplasings kan ook sommige transaksies belemmer.

“Vertel asseblief jou bure en vriende sodat ons die aantal slagoffers van hierdie misdaad kan verminder,” het Rossouw gevra.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button