Crime

‘Geblikte’ leeubedryf kry die trekpas

Die georganiseerde wildbedryf en die regering is al geruime tyd in mekaar se hare oor die jag, teel en verkoop van wild.

Geblikte leeus, wat as onwettig gereken word, is die afgelope tyd weer onder die soeklig nadat die departement van bosbou, vissery en omgewingsake ’n uitnodiging aan leeu-eienaars gerig het om dié bedryf te staak. Die kennisgewing het in Die Pos se uitgawe van Vrydag 14 Julie verskyn.

Minister Barbara Creecy is van voorneme om eienaars van leeus in gevangenskap tegemoet te kom deur hul in ’n “wen-wen-situasie” te plaas indien hulle die bedryf vrywillig verlaat.

Dit volg nadat die parlement in 2021 besluit het om die leeubedryf te beëindig en geblikte leeujag te moniteer en ’n nuwe beleid op die norme en standaarde vir die welsyn van leeus in gevangeskap ingestel het. Hierdie nuwe voorskrifte is op leeuboere afgedwing.

Leeu-eienaars moes teen Vrydag 21 Julie kennis gee aan die departement dat hulle die bedryf vrywillig verlaat.

Die Pos het Hannes Wessels, voorsitter van die South African Predator Association (Sapa) en eienaar van die Mabalingwe-natuurreservaat se roofdierpark, vir kommentaar genader.
Wessels glo dat ’n fyn balans tussen bewaring en die benutting van wild bestaan. Hy sê daar is ’n enorme verskil tussen geblikte leeus en leeus wat in hokke geteel word vir bewaringsdoeleindes.

“Sover ons kennis strek is daar tans slegs een leeu-eienaar in die land wat die bedryf vrywillig gaan verlaat. Geblikte en gehokte leeus word as dieselfde ding gesien en dit is ’n wanopvatting. Permitte en streng regulasies reguleer die aanhou en jag van leeus. Dit is onregverdig dat daar weens onkunde teen alle leeuboere gediskrimineer word en dat hulle oor die kam van “geblikte leeubedryf” geskeer word, sê Wessels.

Sapa, Wildlife Ranching South Africa (WRSA) en lede van die Sustainable Use Coalition South Africa (SUCO) is geruime tyd in hofsake en gesprekke met amptenare gewikkel om die bedryf te red.

Wessels sê die leemtes in die departementele rekords word nou raakgesien. Hulle het min of geen rekord van wildboere of die hulpbronne waaroor dié boere beskik nie.

“As die departement ons tegemoet kom, kan ons self die bedryf regruk, want ons het reeds standaarde en beleide in plek. Hulle neem nie die effek in ag wat die sluiting van die bedryf op gemeenskappe sal hê nie. Ekonomiese agteruitgang is dan ’n realiteit. Die regering kan tans bykans geen maatskaplike funksie uitvoer indien hulle leeuboerderye wil opskort nie,” sê hy.

“Talle mense sal werkloos wees en waarheen gaan daardie leeus? Sal reservate die diere kan akkommodeer of sal hulle doodgemaak word? Die sogenaamde aktiviste weet nie aldag wat werklik op die plase gebeur nie en wat dit kos om na leeus se welstand om te sien.”

Die bedryf is skepties oor sosiale media. Hulle sê jagters en eienaars van wildreservate word dadelik oor die kole gehaal as jagfoto’s aanlyn geplaas word. Dit terwyl hulle geen navorsing of inligting oor die bedryf verkry het nie.

“Wanneer trofeëjag verdag gemaak word, sal daar beperkings op jag- en uitvoere geplaas word, wat weer die taksidermie-ondernemings sal raak.”

Wessels het gesê die groot ophef wat van die beperkings in die leeubedryf gemaak word, bring mee dat leeus se waarde op die swartmark styg en die onwettige jag (stroping) van leeus toeneem.

Hy sê presies dieselfde het met renosters gebeur. “Die oomblik toe die bewaring deur benutting-faktor uit die weg gevee is, het die diere se waarde op die swartmark gestyg.”
Wessels sê hy het volle vertroue in die privaatsektor om dié spesie te bewaar.

“Die Mabalingwe-natuurreservaat is een van enkele reservate waar projekte om leeus te teel suksesvol is. Dit is juis die privaatsektor wat bewaring voorstaan en uitvoer.”

Die WRSA het tydens ’n openbare deelnameproses ’n volledige oudit van die aantal leeuplase en geriewe in die land geëis, asook verslae oor die inkomste en bydraes tot die plaaslike ekonomie uit dié bedrywe.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button