Crime

Vermeende diewe vasgetrek

Die Modimolle-polisie het op Donderdag 6 Julie verdagtes in hegtenis geneem wat verbind word met ’n vlaag diefstalle en inbrake in die Donkerpoort-omgewing buite die dorp.

Volgens kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, is sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 23 en 61 op Donderdag aangekeer met vermoedelik gesteelde items in hul besit.

Lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en Modimolle-speurtak het die verdagtes in Mookgophong opgespoor.

Vier verdagtes, almal Zimbabwiërs, is in Uitbreiding 3 aangekeer.

Die items wat teruggekry is, sluit in ’n sleepwa, Honda-motorfiets, ’n televisie, skootrekenaar, ses motorbande, twee kompressors, twee kragopwekkers, ’n draagbare lig, sweismasjien, matras, beddegoed, kragkabels en tuintoerusting, sê Ledwaba.

’n Vyfde verdagte, ’n plaaslike inwoner, is in Uitbreiding 2 in Mookgophong opgespoor en word met die Donkerpoort-misdrywe verbind.

Die voertuig wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is tydens die inbrake, ’n silwer Toyota Camry, is op die toneel geskut.

Die ondersoekspan het verdere leidrade opgevolg en toe nog twee verdagtes in Mokopane opgespoor nadat die polisie ’n voertuig op ’n openbare pad afgetrek en deursoek het. Ledwaba sê die items wat tydens die soektog gevind is, is waarskynlik ook in Donkerpoort-omgewing gesteel.

Die sewe mans sal na verwagting op Maandag 10 Julie in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, inbraak en diefstal van ’n voertuig.

Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button