Crime

Rower swaar gestraf ná winkel-inbraak

’n Berugte rower is uiteindelik op Donderdag 29 Junie in die hof in Modimolle gevonnis weens haar aandeel in ’n gewapende rooftog wat op 23 April 2019 by die Exact-klerewinkel in Mookgophong plaasgevind het.

Linda Dlamini (42) is vir 20 jaar tronk toe gestuur. Drie ander beskuldigdes is vrygespreek. ’n Vyfde verdagte is nooit aangekeer nie en is steeds op vrye voet.

Die personeel van die winkel het die polisie die betrokke dag ontbied nadat hulle net voor sluitingstyd deur vyf verdagtes beroof is van selfone, kontant en horlosies ter waarde van ongeveer R76 000, het AO George Ledwaba, woordvoerder van die Mookgophong-polisie, aan Die Pos gesê.

Die Exact-klerewinkel in Mookgophong wat in April 2019 beroof is.

Twee mans en ’n vrou het die winkel binnegekom en die vrou het haarself as ’n kliënt voorgedoen wat ’n baadjie wou aanpas. Nóg twee mans het daarna ingekom en die sleutel van die selfoonkas geëis terwyl die personeellede met vuurwapens aangehou is. Hulle het daarna die kluis se sleutel gekry en die kontant in die kluis is gebuit.

’n Op-en-wakker inwoner het kort ná die rooftog snuf in die neus gekry en die verdagtes se voertuig, ’n wit Nissan Tiida, se registrasienommer aan sers. Amanda Rossouw van die Modimolle-polisiestasie gestuur. Volgens AO James Findlay, polisie-woordvoerder in Modimolle, is omliggende polisiestasies gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagte voertuig wat kort daarna op die N1-snelweg (rigting Pretoria) opgemerk is.

Sers. Rossouw en AO. Ross Rossouw het, in samewerking met polisielede van Limpopo en Gauteng, drie verdagtes by die Total Petroport Panorama vasgetrek. Twee van die vermeende rowers, ’n man en vrou, het weggekom. Dlamini is kort daarna in Soweto in hegtenis geneem.

Die polisie het tydens die deursoeking van die voertuig op ’n Walther 7.65-vuurwapen, 66 selfone, verskeie horlosies en klere afgekom, het Findlay gesê.

Dlamini het op Maandag 29 April 2019 saam met die ander verdagtes in die Mookgophong-hof verskyn. Geen borgtog is aan hulle toegestaan nie. Volgens die polisiewoordvoerder is hulle destyds ook verbind met rooftogte van Markham in Bela-Bela.

Die polisie het vasgestel dat die vuurwapen in 2017 in Fairlands, Johannesburg gesteel is, het Findlay destyds gesê.

Die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Limpopo lt. genl. Thembi Hadebe het die harde werk en toewyding van die ondersoekspan geloof wat tot die hofbeslissing gelei het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button