Crime

Onwettige besetters verwyder

Onwettige grondbestters moes die afgelope week weer buite Mookgophong verwyder word nadat hulle geweier het om privaat eiendom te verlaat.

Die grond, wat aan die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) behoort en langs die N1-snelweg grens, is in Junie 2020 ook onwettig beset deur mense wat kleims afgesteek en erwe begin skoonmaak het. Die besetters is toe verwyder en ’n hofuitspraak het hulle verbied om die grond te beset.

Volgens Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), het Marita Louw, VF Plus-raadslid van Mookgophong, haar op Dinsdag 27 Junie in kennis gestel van die onwettige besetting. Sy het dadelik die bevelvoerder van die Mookgophong-polisiestasie gekontak en ’n saak geopen. Maritz het gesê die polisie het haar die versekering gegee dat hulle die saak sal opvolg en die onwettige grondbesetters sal verwyder word indien nodig.

Carel Engelbrecht, ’n boer in die omgewing, het gesê Sanral is in kennis gestel van die grondbesetting en hulle het ’n veiligheidsmaatskappy gestuur wat, met die hulp van boere in die omgewing, die grondbesetters verwyder het. Volgens Engelbrecht het hulle geen hulp van die polisie ontvang nie.

Van die besetters het aan Engelbrecht gesê dat hulle toestemming gekry het om “hul erwe daar af te steek”. Hulle kon egter nie sê wie die persoon is wat vir hulle toestemming gegee het nie.

“Die besetters was nie op ’n boer se grond nie, maar wel op privaat grond. Die praktyk van onwettige grondbesetting bly ’n probleem en is ’n veiligheidsrisiko vir al die inwoners. Ons kan dit beslis nie toelaat nie,” het Maritz aan Die Pos gesê.

Sy het ook onderneem om met die polisie te skakel sodat hulle gereeld patrollies kan ry om soortgelyke gevalle in die toekoms te stuit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button