Crime

Vermeende moordenaars weer in hof

Die vier beskuldigdes in die moordsaak van Nicky Janse van Rensburg (35) van Roedtan het weer op Vrydag 23 Junie in die hof in Mookgophong verskyn.

Albert Mangena (33), Malesela Mangena (35), Lesiba Solly Segwale en Morwantsiri Justice Mashiane (32) word daarvan beskuldig dat hulle Van Rensburg op 7 Oktober 2022 vermoor het.

Die saak is weer uitgestel tot Maandag 17 Julie. Die hof het gehoor heelwat bewysstukke teen die beskuldigdes is reeds verkry, maar die hof wag nog vir die DNA-uitslae en ’n selfoonverslag wat Vrydag nie beskikbaar was nie.

Die DNA-uitslae is wel voltooi, maar die ondersoekbeampte moet dit persoonlik in Pretoria gaan afgehaal aangesien hierdie soort verslae nie meer per e-pos gestuur word nie. Sommige van die staat se verslae was ook nog uitstaande. Die staat het ook aangevoer dat die prosessering tydsaam is en die dokumente nie binne twee weke beskikbaar sal wees, soos die verdediging versoek het nie.

Die huis (bo) waar Nicky Janse van Rensburg op 7 Oktober 2022 op sy plaas Derdekraal naby Roedtan koelbloedig vermoor is.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het aangevoer dat die staat sloer met die saak en druk uitgeoefen dat die saak op 16 Julie voortgaan en nie op 27 Julie soos deur die staat aangevra is nie.

Mangena het op Dinsdag 6 Junie weer verskyn om vir borgtog aansoek te doen, maar dit is geweier. Die beskuldigdes is steeds in aanhouding.

Die moord het omstreeks 17:00 die Vrydagmiddag op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing plaasgevind. ’n Tienerseun wat by Janse van Rensburg en sy vriendin, Veronica Grobler, op die plaas gewoon het, is vroeër die middag in die plaashuis aangehou. Die verdagtes het Janse van Rensburg en Grobler ingewag toe hulle van die dorp af gekom het. Janse van Rensburg en die aanvallers was glo in ’n struweling betrokke toe hulle die kluis se sleutels geëis het. Nadat hy in sy huis geskiet is, het die aanvallers in ’n wit Toyota Corolla gevlug met vuurwapens en selfone wat hulle in die huis gebuit het.

Hulle het op 24 Oktober 2022 vir die eerste keer in Roedtan in die hof verskyn. Die saak het landswyd aandag getrek toe ’n groot aantal boere met hul trekkers en stropers opgetrek het om hulle ondersteuning te wys.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button