Crime

Kabeldiewe wéér doenig in Modimolle

Kabeldiewe van Modimolle het hulle nie laat onder kry deur die munisipaliteit se poging om die herstelde kabels dieper te lê nie.

Die Koro Creek-gholflandgoed en ander dele van die dorp was op Sondag 18 Junie etlike ure lank sonder kragtoevoer nadat sowat 25 m se kragkabels oopgegrawe en gesteel is.

Volgens raadslid Wiets Botes is die kabels wéér oopgegrawe, reg langs die gedeelte wat herstel is, nadat daar sowat 40 m kabel op Maandag 5 Junie gesteel is. “Om te verhoed dat die kabels so maklik gesteel word, het die munisipaliteit die kabel 1,2 m diep begrawe. Die skelms het egter nou die deel langsaan se kabels gesteel,” het hy gesê.

Die kragkabels is net buite die dorp, baie naby aan die R33-pad wat tussen Modimolle en Vaalwater loop, gesteel. ’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak.

“Daar is verskeie vrywilligers wat ons help om die woongebiede en infrastruktuur te beskerm,” het Botes gesê. “Ons sal hulle graag wil bemagtig deur geld vir brandstof te gee en hul ander uitgawes te dek.”

Die geld kan in Aksie Opknap, ’n vrywilliger-organisasie, se rekening inbetaal word. Die besonderhede is: Aksie Opknap, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 6289 255 3580, takkode 260 247. Die skenker se naam en van kan as verwysing gebruik word.

“Ons oorweeg dit om met veiligheidsorganisasies soos die Heritage Protection Group (HPG) te skakel om seker te maak die infrastruktuur word nie deur stropers beskadig nie,” het hy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button