Crime

Onwettige immigrante en diewe loop hul lelik vas

Die Bela-Bela-polisie het die afgelope paar weke op die bekamping van minder ernstige misdaad gekonsentreer en in die proses groot sukses behaal.

Deeglike ondersoekwerk het gelei tot ’n hele aantal suksesvolle vonnisopleggings in die Bela-Bela-landdroshof.

  • Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, is 11 buitelanders op Maandag 24 April gevonnis omdat hulle onwettig in die land is. Tien van die verdagtes is van Zimbabwe en een van Malawië. Sy sê die polisie het die buitelanders onderskeidelik naby die nuwe kliniek in die Bela-Bela-township, die N1-snelweg naby Kranskop, in Limpopo-, Lebudi- en Hector Petersenstraat in die township, asook by die Multipurpose-sentrum aangekeer.
    Die hof het die verbode immigrante elk ’n boete van R1 000 opgelê of die opsie om twee maande tronkstraf uit te dien. Die departement van binnelandse sake is reeds in die proses om hulle te deporteer, sê Smith.
  • In ’n ander saak is Ben Maname op Woensdag 3 Mei skuldig bevind op aanklag van diefstal vanuit ’n voertuig. Maname het einde Desember 2022 by ’n voertuig in Bhamstraat in Jinnah Park ingebreek en die motorradio, battery, luidsprekers en ’n sonbril gesteel. Hy is drie jaar tronkstraf opgelê.
  • Nog ’n verdagte, Ofentse Morati, wat in April by ’n woning in Zuma View ingebreek het, is tot twee jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is op aanklagte van inbraak en diefstal.
    Smith sê Morati het onder meer ’n gasstoof, klanktoerusting, sonkragpanele en ’n selfoon gesteel. Haar vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort.
  • Sers. Madibetja Futana van die speurtak het onlangs ’n noue ontkoming gehad toe hy na ’n huishoudelike geweldsaak in die township uitgeroep is en die verdagte op die terrein sy groot hond aangehits het om Futana te byt.Smith sê Futana het gelukkig nie ernstige bytwonde opgedoen nie en is steeds op sy pos. Hy het die hond se eienaar, Tsholofelo Phanyane, daarna in hegtenis geneem. Die hof het Phanyane op Donderdag 4 Mei gevonnis tot ’n boete van R3 000 met ’n opgeskorte vonnis.
  • ’n Winkeldief, Frans Mutshali, is op Dinsdag 2 Mei ’n boete van R1 500 opgelê nadat hy in Januarie 2022 sowat R400 se vleis by Pick n Pay gesteel het.
    Smith sê die hof het hom tot drie maande tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is vir drie jaar.
  • In nog ’n saak is Frans Sithole in die township in hegtenis geneem nadat hy ’n venster van ’n woning met ’n baksteen uitgeslaan het. Hy is ook ’n boete van R1500 opgelê, of moet drie maande tronkstraf uitdien. Smith sê Sithole is al voorheen van soortgelyke misdrywe aangekla.Die beamptes wat in hierdie sake deeglike ondersoekwerk gedoen het, is sers. Petros Montja, konst. Madimetja Futana, sers. Klaas Minyuku en konst. Pieter Scheepers.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button