Crime

Man betrap met gesteelde siekebriewe

’n Man wat glo skryfbehoeftes met bekende dokters van die omgewing se name op gesteel het, het volgens die polisie links en regs siekebriewe uitgeskryf.

’n Werknemer van die praktyk van drs. Nicola Havemann en Gerhard Grobler het dit op Donderdag 11 Mei onder Die Pos se aandag gebring nadat ’n verdagte op dié dag naby die verlate Phodi Clinic in die dorp aangekeer is met ’n pak leë voorskrifte en siekebriewe met verskeie Bela-Bela dokters se briefhoofde daarop.

’n Polisiewoordvoerder het bevestig dat lede van die plaaslike polisiëringsforum (GPF) ’n verdagte naby die Phodi Clinic aangekeer het waarna die polisie die man in hegtenis geneem het.

Die verdagte is helderoordag in Moffatstraat betrap met koperkabels, koperpype, siekbriewe, voorskrifblokke en selfs skedule 6-medikasie wat hy vermoedelik by die hospitaal gesteel het.

Die woordvoerder sê die verdagte het op pad na die polisiestasie uit die vangwa ontsnap. Hy het na bewering ’n tang vir die polisie weggesteek wat hy gebruik het om die venster van die vangwa oop te knip en daardeur geklim.

Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, het by navraag gesê die verdagte is aan die polisie bekend en dit is net ’n kwessie van tyd voordat hulle hom sal vastrek. Die man het glo al voorheen met die gereg gebots en word ook betrek by dwelmverwante sake.

Die polisie en plaaslike dokters is bekommerd dat meer van hierdie mediese dokumente in die omgewing sirkuleer en mense daarvan misbruik kan maak.

Uit die bewysstukke het die volgende dokters se name opgeduik: drs. Roelof Coertze, Nicola Havemann, Gerhard Grobler, Victor Emslie, Meyer de Jonge, T.R. Mahlare, asook dr. AB de Villiers (wat reeds uit die dorp verhuis het) en wyle dr. Albertina Nambi.

Die meeste van hierdie dokters het pasiënte by die destydse St. Vincent-hospitaal gekonsulteer. Die hospitaal het later onder nuwe bestuur as die Phodi Clinic bekend gestaan.

Plaaslike apteke en dokterspraktyke is volgens die polisie reeds in kennis gestel van die situasie.

Inwoners word versoek om die polisie te skakel indien hulle van die gesteelde mediese dokumente weet of gesien het.

Sedert die Phodi Clinic sy deure in April 2022 gesluit het, is die gebou en terrein vervalle en het dit die teiken van diewe geword. Die perseel word namens die Phodiso Management Corporation deur African Health Care (AHC) bestuur.

Lede van die GPF het sedertdien die perseel besoek om vandale af te skrik en ook om misdaadprobleme by die Caritas-aftreeoord, TuinTuiste-aftreeoord, Laerskool Warmbad en omliggende wonings hok te slaan.

Die Pos doen gereeld navraag oor die Phodi Clinic-perseel se toekoms. Sover vasgestel kon word is daar geen planne vir die heropening van ’n hospitaal nie. Die verwydering van die toerusting en inhoud van die hospitaal is aan die bestuur gerapporteer.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button