Crime

‘Dwelmsmouse’ vasgetrek

Twee vermeende dwelmhandelaars het hul Moses teëgekom toe hulle op Vrydag 5 Mei in Mookgophong aangekeer is. Volgens ’n lid van Reflex Secure se reaksie-eenheid in die dorp, is die mans, twee Nigeriërs, geruime tyd lank dopgehou voordat daar op hulle toegeslaan is.

Die twee verdagtes is laatmiddag in ’n systraat langs die polisiestasie in die dorp vasgetrek en daar is beslag gelê op ’n voertuig waarin daar “Crystal Meth” of beter bekend as “tik” ter waarde van ongeveer R180 000 was.

Die verdagtes se dossier is na Polokwane oorgeplaa waar hulle in die hof sal verskyn.

Die Limpopo-hoofwegpolisie, POPS, landelike veiligheid, AfriForum-buurtwag, Reflex Secure en Spoorvat Veiligheid het almal saamgewerk om die mans aan te keer.

Volgens Louw Pretorius, AfriForum-buurtwag se voorsitter, is dit die samewerking van al die partye wat die deurslag gegee het.

“Ons is baie trots op die lede se deursettingsvermoë en hul opoffering om laat- nagte te werk. Hierdie is net weer ’n bewys dat ons hande moet vat om misdaad in ons omgewing vas te vat,” het Pretorius aan Die Pos gesê.

Reflex Secure het gesê hulle sal aanhou om misdaad te beveg en alles in die stryd sal werp om die gemeenskap te beveilig en ongewenste elemente uit die dorpe te verwyder.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button