Crime

Beurtkrag skep geleenthede vir kabeldiewe

Kragkabeldiewe het tydens die geskeduleerde beurtkrag op Donderdag 4 Mei in Bela-Bela toegeslaan en groot skade aan infrastruktuur aangerig.

Volgens Jeedee Cloete, VF Plus raadslid, het die diewe ’n sentrale kragpunt naby die Bela Mall geteiken waar hulle ’n ondergrondse kragkabel oopgegrawe en die koperkabels gebuit het. Die diewe het ook gepoog om ’n deel van die transformator van sy komponente te stroop.

Dit het tot gevolg gehad dat ’n groot deel van die dorp en die Noodhulp- en Roodepoort-omgewing, sonder krag was.

Die volgende dag het kabeldiewe in die Bospoort-omgewing kragkabels gebuit. Die inwoners was onder die indruk dat die kragonderbreking weens die fout by die Bela Mall was. Die fout is eers later herstel.

Valley de Souza, plaaslike elektriese kontrakteur en sy span, het nuwe komponente in Centurion opgespoor en hy kon dit laat haal terwyl die voorberei-
ding vir die las van die kabel voortgegaan het. Danksy sy kundigheid en kontakte kon die probleem by die Mall vinnig opgelos word, het Cloete gesê.

Die tegniese amptenare van die munisipaliteit was ook op hul poste en het fluks gehelp om die fout op te spoor, het Cloete aan Die Pos gesê.

“Dit is belangrik om die munisipaliteit te dwing om daardie bebosde gedeelte, wat die ou skougronde insluit, skoon te maak sodat verdagte optrede dadelik aangemeld kan word. Die booswigte het die bosse oopgekap en daar geskuil terwyl hulle die kabel gesteel het.”

Cloete sê hy het reeds die diefstal by die polisie aangemeld en benadruk dat dit noodsaaklike infrastruktuur is wat gesteel is.

“Ek dink nie Eskom besef hoe groot die uitwerking van beurtkrag op die land is nie. Misdadigers slaan munt uit die situasie omdat skedules vooraf beskikbaar gestel word en hulle weet presies waar om toe te slaan. Hulle ken die skedules beter as die inwoners,” het Cloete gesê. “Ek wil graag die buurtwagte en veiligheidsmaatskappye van die dorp, Noodhulp en Roodepoort bedank omdat hulle die kragpunte tydens dié operasie beman het. Solank Eskom met beurtkrag aanhou, sal hierdie onnodige nonsens nie stop nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button