Crime

Talle verdagtes kry die wind van voor in Bela-Bela-hof

Lede van die Bela-Bela-speurtak het tussen Maart en April deeglike ondersoekwerk gedoen wat gelei het tot die suksesvolle vervolging van verdagtes in die Bela-Bela-landdroshof.

Hoewel daar gereeld landwyd berig word oor hofsake wat jare lank sloer, is hierdie vonnisse almal binne ’n paar weke afgehandel.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, is twee onwettige immigrante van Zimbabwe — Courage Zhou en Brian Moyo — op Woensdag 19 April albei tot twee maande tronkstraf gevonnis.

Polisielede wat uit op patrollie was het die mans op Sondag 16 April op die hoek van Moraka- en Limpopostraat in die Bela-Bela-township aangekeer, sê Smith.

Weens hul onwettige status het die hof beveel dat hulle gedeporteer word.

Nog ’n verdagte, Vally Mosweu, is aangekeer nadat hy verbind is met die inbraak en diefstal by twee township-persele tussen November 2022 en Maart vanjaar.

Mosweu is voorheen aan ses soortgelyke misdrywe skuldig bevind.

Smith sê die hof het hom verlede week tot ’n jaar en nege maande tronkstraf gevonnis.

Die polisie het vir Thabang Obed Molekoa op Sondag 9 April aangekeer weens diefstal vanuit ’n voertuig in Malebestraat in die township.

Molekoa, ook ’n voormalige oortreder, is op Donderdag 20 April tot 18 maande tronkstraf gevonnis.

Smith het gesê nog ’n verdagte, Mojani Rich Lowani, is op Woensdag 22 Maart in hegtenis geneem op aanklag van aanranding.

Luidens die klagstaat het Lowani sy gewese vriendin in die openbaar aangerand en gedreig om haar te vermoor indien sy nie saam met hom terugkeer na sy woning nie.

Die hof het hom op Maandag 17 April skuldig bevind aan aanranding. Hy is beveel om ’n boete van R1 000 te betaal of om twee maande tronkstraf uit te dien.

’n Koperdief, Ishmael Kobe, is op Donderdag 20 April gevonnis. Smith sê Kobe is op Donderdag 23 Maart Morakastraat deur die polisie aangekeer met ’n groot aantal koperkabels (1,8 kg) in sy besit. Hy kon nie verduideliking waar die kabels vandaan kom nie.

Kobe is voorheen aangekeer weens die besit van dagga en word ook verbind met ’n rooftog wat in 2014 plaasgevind het.

Die hof het hom op Donderdag 20 April skuldig bevind op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en hom tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Die vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort, sê Smith.

Die Bela-Bela-omgewing gaan gebuk onder hierdie soort misdrywe en hierdie vonnisse sal hopelik as ’n afskrikmiddel vir booswigte dien, het Smith gesê.

Die beamptes wat die ondersoeke hanteer het, is sersante Frans Sekgobela, Petros Montja, Peter Manamela, Frank Moeng en konst. Armando Fourie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button