Crime

Hou jou vuurwapenlisensie naby

Maak seker dat jy jou motor- en vuurwapenlisensie byderhand hou as jy reis, waarsku ’n boer van Modimolle nadat hy glo deur drie metropolisiebeamptes op die snelweg afgetrek en geïntimideer is.

Hierdie voorval, wat in Februarie naby Hammanskraal gebeur het, blyk slegs een van vele sulke gevalle te wees.

In ’n brief van Juan Kotze Prokureurs wat aan die Nasionale Jag- en Sportskiet-vereniging (Natshoot) gerig is, word lede van die vereniging aangemoedig om sulke gevalle met die Tshwane Metro op te neem.

Luidens die brief is ’n ondersoek glo geloods na metrolede wat betrokke is by die viktimisasie van vuurwapen-eienaars in die omgewing van Hammanskraal en die Carousel.

Die boer van Modimolle, wat verkies om anoniem te bly, sê hy is deur drie metro-polisielede by ’n padblokkade van die pad getrek.

“Die probleme het begin toe ek nie onmiddellik my hande op my bestuurslisensie kon lê nie. Hulle het my uit my voertuig laat klim en een van die beamptes het dadelik ingeklim en deur my goed begin soek. Hoewel ek my bestuurderslisensie kon opspoor, het hulle op my pistool wat ek onder die sitplek gebêre het afgekom. Dit was ’n fout om nie my wapenlisensie by my te hê nie. Hulle het op ’n baie intimiderende wyse op my geskree en die bakkie deursoek. Ek het geweier om die wapen aan hulle te oorhandig en gesê hulle kan saam met my na die naaste polisiestasie toe gaan om te bevestig of dit wettig is.”

Die drie lede het sy selfoon by hom geneem toe hy foto’s van hulle wou neem, sê die man.

Volgens die man het hulle begin met praatjies van “you must make another plan” wat hy na ’n ruk besef het verwys waarskynlik na omkoopgeld.

“Ek het uiteindelik etlike duisende rande se geld gaan onttrek om uit die situasie te kom, want hulle wou nie ophou nie. ’n Mens voel weerloos met drie aggressiewe mense wat skree en jy kan nie terugklim in jou voertuig nie, want een van hulle sit binne-in. Sou so iets weer gebeur, sal ek nie uit my voertuig klim nie. Hulle kan saam met my tot by die naaste polisiekantoor ry,” het hy gesê.

In die prokureursbrief word mense aangeraai om die name van beamptes wat hulself aan sulke gedrag skuldig maak, te neem, asook die registrasienommers van enige voertuie wat hulle gebruik het. Maak seker van die dag, tyd en plek waar dit gebeur het. Onthou ook die besonderhede van die dreigemente.

Volgens die brief moet enigeen wat ’n wapen dra hulself identifiseer en die wapen se lisensie kan toon indien ’n polisiebeampte daarvoor vra. Die beampte mag die vuurwapen nagaan. Die beamptes moet hulself ook eers identifiseer.

Die vuurwapen mag, soos in die boer se geval, onder die sitplek gestoor wees, of in ’n soortgelyke veilige plek waar die wettige eienaar toegang daartoe het. Vuurwapens mag nie in voertuie gelaat word wanneer die bestuurder uitklim nie.

Dit is ’n oortreding om in besit te wees van ’n vuurwapen wat se lisensie verval het en nie hernu is nie. Die prokureurs moedig lede aan om enige moontlike konflik met die gereg te vermy en seker te maak dat hulle wel die nodige lisensies en permitte om te jag of vleis te vervoer byderhand het.

  • Inwoners kan soortgelyk voorvalle aanmeld by HornG@dtcs.limpopo.gov.za(.) Dit is belangrik om die datum, tyd en plek van die voorval te noem. Name van beamptes sal help.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button