Crime

Diefstal van sonpanele kos boere duisende rande

’n Verdagte is aangekeer ná die diefstal van sonpanele en waterpompe wat derduisende rande werd is.

Volgens die polisie is die verdagte vermoedelik deel van ’n sindikaat wat onder meer sonpanele by lodges in die omgewing tussen Vaalwater en Lephalale steel.

Die polisie het Woensdagnag 12 April ongeveer 23:00 op ’n sinkhuis in die Dorset-gebied toegeslaan nadat hulle inligting oor die sonpanele ontvang het. Een van die verdagtes het hulle ontglip. Verskeie huise in die Vaalwater-polisiegebied is deursoek en vyf sonpanele en ’n waterpomp is gevind. Die waarde is na raming R40 000.

Die man wat aangekeer is, is ’n 37-jarige buitelander. Hy het op Vrydag 14 April in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik
gesteelde eiendom.

Henk de Graaff, voorsitter van die Waterberg Landbou-unie, sê die diefstal van sonpanele word ’n groot probleem.

“Almal wil nou sonpanele hê. Op plase word dit gewoonlik ver van die huise af geïnstalleer waar dit nie heeltyd gesien word nie. Dit gee diewe die geleentheid en tyd om dit te steel. ’n Mens sien dikwels dat die panele met lemmetjiesdraad toegespan word,” het hy gesê.

“Beesboere en sommige besproeiingsboere se pompe moet heeltyd krag hê om water te pomp. Met 10 tot 12 ure per dag sonder elektrisiteit, moet boere noodgedwonge oorskakel na sonkrag ter wille van volhoubaarheid en sodat produksie kan voortgaan. Dit raak ’n reuseprobleem as dit gesteel word.”

De Graaff het gesê dit lyk asof die belastingvoordeel wat die regering gee op die koop van sonpanele ’n tekort aan die verskaffing van panele veroorsaak het.

“Dit is ’n probleem vir boere as hulle weke lank moet wag om panele in die hande te kry om water te pomp.”

Van die boere, veral dié in die agri-toerismesektor, se motorhekke kry ook krag van sonpanele af.

AO Pieter Booyse van die Modimolle-polisie moedig boere aan om hul panele te merk of, indien moontlik, ’n klein opsporingstoestel in die sonpaneel se hoek vas te gom. Van hierdie toestelle se batterye hou so lank as vyf jaar. Panele wat gemerk is, maak dit makliker om die diewe vas te trek.

“Diewe steel wanneer dit donker is en niemand hulle kan sien nie. Dit is belangrik om die omgewing om die panele oop te maak en te ontbos. Installeer sonkragligte sodat dit lig is — selfs tydens beurtkrag,” het hy gesê.

Hy vra dat boere aansluit by die veiligheidstrukture waar hierdie soort diefstalle onmiddellik aangemeld kan word. Die veiligheidskameras behoort voertuie wat in die omgewing was, te kan opspoor.

Enigeeen met inligting oor vermoedelik gesteelde sonpanele, kan vir AO Charlotte Thuketana bel by tel. 082 414 6658.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button