Crime

‘Winskopie’ laat boer opdok

Peet Bothma, ’n 64-jarige boer van Modimolle, is op Woensdag 22 Maart ná ’n pleitooreenkoms daaraan skuldig bevind dat hy in besit was van ’n gesteelde John Deere-trekker.

Die polisie het op 30 Junie 2017 op sy plaas toegeslaan waar hulle die trekker gevind het.

Die Pos het in 2017 berig dat ’n privaat speurder verskeie gesteelde trekkers opgespoor het toe hy in opdrag van ’n boer van Delmas begin soek het na twee John Deere 6930-trekkers wat in Junie daardie jaar by hom gesteel is. Die John Deere-trekkers is nie op Bothma se plaas gevind nie, maar ander trekkers wel.

Die streekhof in Modimolle het gehoor dat Bothma die trekker in Januarie 2016 teen ’n bedrag van R70 000 gekoop het, hoewel die markwaarde ongeveer R120 000 was. Bothma het in sy pleitooreenkoms erken dat hy met die koop van die trekker moes besef het dat die verkoper nie die eienaar van die trekker was nie.

Die hof het bevind dat Bothma ’n eerste oortreder is en berou getoon het. Hy is gevonnis tot ’n boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf plus ’n verdere 12 maande tronkstraf wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word aan soortgelyke klagtes nie.

Die saak is deur landdros Pieter Manthata aangehoor.

Die trekker is aan die regmatige eienaar terugbesorg.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button