Crime

Diewe ry heining met vragmotor plat

Twee vragmotors is verlede week uit ’n sakeperseel in Modimolle gesteel.

Die diewe het die voertuie gebruik om die palissade-heining plat te ry sodat hulle kon wegkom.

“Een van die vragmotors het aan die onderneming behoort en die ander is deur ’n sakeman aan hulle geleen,” het AO Pieter Booyse van die Modimolle-polisie gesê.

Die diewe het blykbaar slegs enkele kilometers buite die dorp van die pad getrek en die opsporingstoestel wat in een van die vragmotors was verwyder. Volgens aanduidings het hulle in die rigting van Lebowakgomo gevlug.

“Behalwe vir hierdie voorval het ons eintlik ’n stil Paasnaweek beleef. Daar was wel gevalle van dronkenskap en die gebruik van dwelms,” het hy gesê.

Booyse het inwoners gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle groot bedrae geld gaan deponeer en hulle aangeraai om gereeld hul roetine te verander.

Hy het gesê diefstal van koperkabels kom steeds voor, veral tydens beurtkrag. Inwoners wat kamerastelsels het, word gevra om seker te maak dat hul kameras se tye korrek ingestel is en dat die beeld gestoor word. Dit is ’n handige hulpmiddel in die stryd teen misdaad.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button