Crime

Misdaad gedy oor Paasnaweek

Misdadigers was die afgelope Paasnaweek baie bedrywig en verskeie mense en eiendomme in die Bela-Bela-omgewing is geteiken.

Verskeie klagtes van diefstal is aangemeld.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, is daar op Woensdag 5 April vyf voorvalle van diefstal uit voertuie aangemeld.

Die voorvalle het in die SUPERSPAR-parkeerarea en by die Bela Mall plaasgevind. Elektroniese toerusting, derduisende rande kontant en kos is gebuit.

“Inwoners moet besef hulle moet hulself en hul eiendom beskerm. Mense moet onder geen omstandighede waardevolle artikels in hul voertuie agterlaat nie. Indien dit onvermydelik is, moet die items in die kattebak toegesluit word sodat dit nie sigbaar is nie. Maak ook seker dat niemand sien hoe die items in die kattebak geplaas word nie,” het Smith gesê.

Sy het voorts gesê daar is vanaf 5-7 April verskeie inbrake by eiendomme in die dorp aangemeld.

Inwoners van die Bela-Bela-township het ook deurgeloop toe daar by vyf persele ingebreek is.Items wat gesteel is, sluit in klankstelsels, kos, televisies, selfone, ’n matras en ’n motorbattery.

Ander inbrake het by ’n vakansiebestemming in die Nylsoog-gebied en in die Tweefontein-omgewing plaasgevind, sê Smith. Elektroniese toerusting, beddegoed, grimering, ’n fiets en gastoerusting is gesteel.

“Ons vermoed hierdie misdrywe word gepleeg deur mense wat desperaat is weens hul ekonomiese omstandighede. Daar is ook die vermoede dat dit deur dwelmgebruikers gepleeg word.”

’n Verdagte wat verbind word met die diefstal van ’n klankstelsel is aangekeer en sal eersdaags in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button