Crime

Renosterstropings, moord en roof in Bela-Bela

Die Bela-Bela-polisie ondersoek ’n klag van moord nadat ’n inwoner van Spa Park op Saterdag 18 Maart vermoor is.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het die voorval ongeveer 19:30 plaasgevind nadat daar ’n onderonsie tussen twee mans naby ’n plaaslike winkel ontstaan het.

Die oorledene, Lucas Mashishi (37), is in die rug en nek gesteek. Hy het later aan sy wonde beswyk, sê Smith.

’n Verdagte is die volgende dag in Spa Park aangekeer en van moord aangekla.

Hopewell Gumede (34) het reeds in die hof verskyn. Sy saak sal op Donderdag 30 Maart voortduur, wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.

  • ’n Inwoner van Bela-Bela het verlede week ’n klag van roof by die Bela-Bela-polisie geopen nadat hy na bewering op Donderdag 23 Maart in die dorp beroof is.
    Volgens Smith beweer die inwoner dat hy om 20:45 op die hoek van Moffat- en Groblerstraat deur twee mans met vuurwapens beroof is. Hy was op pad terug van die kitsbank in die SUPERSPAR-kompleks. Volgens die inwoner het die rowers hom langs die pad ingewag en hom van R5 000 beroof. Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Frans Sekgobela, bel by tel. 082 962 1493.
  • Die twee verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle betrokke was by die stroping van twee renosters buite Bela-Bela verskyn eersdaags in die Bela-Bela-landdroshof. Die twee renosterkoeie is op Woensdag 1 Maart op ’n bekende renosterplaas gestroop vir hul horings en sterte. Die naam van die plaas word om veiligheidsredes weerhou.
    Die verdagtes, Amini Makhubela en Curtis Tshabalala, moet weer op Donderdag 6 April in die hof verskyn. Albei is steeds in aanhouding.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button