Crime

Man oorleef rooftog naby Warmbad-dam

’n Plaaswerker is tussen Donderdag en Vrydag 16-17 Maart op ’n gasteplaas buite Bela-Bela aangerand toe rowers vermoedelik op die plaas toegesak het.

Die gasteplaas, wat versoek het dat hul naam weerhou word, is buite die dorp op die Alma-pad geleë.

Marcelle Maritz, VF Plus se provinsiale leier, het aan Die Pos gesê die perseel is ongeveer ses maande gelede ook geteiken.

“Die werker is oor die kop geslaan met ’n pik en moes hospitaalbehandeling kry. Hy is reeds ontslaan en terug by die werk. ’n Vrou en kind wat ook op die perseel was, is gelukkig ongedeerd,” vertel sy.

“Die eienaar was in daardie stadium in ’n ander provinsie. Ondersoekspanne vermoed dat die rowers die perseel vanaf ’n nabygeleë berg dopgehou en hul kans afgewag het om toe te slaan. Daar is later van die gesteelde eiendom bo-op die berg gevind.”

Maritz bedank die gemeenskap en die polisie vir hul bystand ná die aanval.

“Dit maak nie saak of dit ’n boer of werker is wat aangeval word nie. Plaasaanvalle maak my baie bekommerd en die mense wat dit ervaar, lê my ná aan die hart.”

Die eienaar is verlig dat haar werker se lewe gespaar is.

“Hy het kort ná my man se dood in 2022 besluit om na my en die perseel om te sien. Hy is baie hard oor die kop geslaan.”

Die Pos het navrae aan die plaaslike polisiestasie gerig, maar teen druktyd geen meer detail ontvang nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button