Crime

Ontsnapping krap ou wonde oop

Een van die ses verhoorafwagtende gevangenes wat op Maandagoggend 13 Maart op pad tussen Makhado na Polokwane ontsnap het, was vermoedelik by die gru-moord op Alwyn van Zyl in 2020 betrokke.

Dit sal op Maandag 20 Maart presies drie jaar wees sedert Van Zyl, van Badseloop buite Mookgophong, vermoor is. Drie mans is destyds weens die moord aangekeer. Daar was ’n vierde verdagte wat nooit opgespoor kon word nie.

Die boodskap is dié week wyd op sosiale media versprei dat een van die verdagtes wat dié week ontsnap het, ene Erick Sithole (35), moontlik die vierde verdagte in die Van Zyl-moord is. Sithole was verhoorafwagtend op ander misdade.

Die polisie het teen druktyd gesê hulle is bewus van die bewerings, maar dit kon nog nie met sekerheid bevestig word of Sithole wél by die moord op Van Zyl betrokke was nie.

Honderde boere, werkers en inwoners het hul misnoeë gewys en in ’n konvooi met plaasimplemente ’n optog gehou ná die moord op Alwyn van Zyl van die Mookgophong-omgewing. Foto: Herman Steyn

Volgens brig.Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het ’n groep swaargewapende mans Maandag op die polisie geskiet terwyl hulle die ses aangehoudenes na Polokwane vervoer het. Hulle het daarin geslaag om die gevangenes te bevry en het in ’n grys Mercedes Benz en ’n wit Toyota-bakkie van die toneel gevlug.

Die voorval het langs die Vivo-pad by die eerste Schoemansdal-afdraai buite Makhado gebeur.

Die ontsnaptes is Zimbabwiese burgers wat almal van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla word. Een is in hegtenis geneem weens kabeldiefstal.

Lt. genl Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het beveel dat die nodige polisiehulpbronne, insluitend die lugvleuel, ingespan word om die gevangenes én die groep gewapende mans op te spoor.

Regter Violet Semenya het drie van die vier verdagtes wat verdink word van die moord op Van Zyl in April verlede jaar in die hooggeregshof in Polokwane tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die drie, wat sedert Maart 2020 in aanhouding is, is Ugenuis Saga (30), Loyd Madumba (28) en Tatenda Ngwenya (32). Hulle was ook onwettige immigrante van Zimbabwe.

Saga en Madumba is tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens moord, roof en aanranding en Mangwenya tot lewenslange tronkstraf weens moord, roof, aanranding en nog tien jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en nog vyf jaar vir die besit van onwettige ammunisie.

“Ek hoop dat die laaste aanvaller aangekeer sal word, want hierdie krap net weer ou wonde oop,” het René Briel, Van Zyl se dogter aan Die Pos gesê.

• Die destydse moord op Van Zyl en die aanranding op sy vrou, René, het ongekende woede onder die boeregemeenskap ontketen. Honderde boere, inwoners en mense sover as Gauteng het op Dinsdag 18 Augustus 2021 tydens die vyfde verskyning van die moordenaars in Mookgophong byeen gekom om hul ondersteuning aan die Van Zyl’s te toon. Die optog het landwyd groot opslae gemaak en slagspreuke soos: “Geen boer, geen kos, geen werk, geen toekoms” was oral te sien.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button