Crime

Vuurwapen-eienaar in hof ná moord op ma en dogter

Die familie van Carmen (34) en Leigh Cloete (11) wat op Saterdag 25 Februarie in Bela-Bela vermoor is, het verlede week in Kaapstad finaal van hul afskeid geneem.

Volgens die Bela-Bela-polisie is Carmen en haar dogter deur Carmen se voormalige vriend, Hendrik “Muzi” Ndlovu (38), by hul woning in Ludorfstraat doodgeskiet. Ndlovu het daarna sy eie lewe geneem.

Carmen se familie het vroeër aan Die Pos vertel dat haar verhouding met Ndlovu baie onstuimig was.

Sy was verplig om die plaaslike polisiestasie te nader vir ’n beskermingsbevel nadat hul verhouding verbreek is, maar dit kon steeds nie haar lewe red nie.

Die vuurwapen wat in die misdaad gebruik is, het volgens die polisie vermoedelik aan ’n vriend van Ndlovu behoort.

Die polisie ondersoek steeds hoe Ndlovu die vuurwapen in die hande gekry het.

Fanuel Molepo het reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag.

Hy word ook aangekla van die nalatigheid met die berging van sy vuurwapen.

Die saak is uitgestel na Woensdag 30 Augustus.

Volgens die polisie word die vuurwapen vir ballistiese toetse weggestuur.

Carmen en Leigh se begrafnis het op Woensdag 1 Maart in Kaapstad plaasgevind.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button