Crime

Buitelanders ontsnap uit Bela-Bela-polisieselle

Die Bela-Bela-polisie het die afgelope week ’n grootskaalse soektog begin toe drie verdagtes uit hul sel by die Bela-Bela-polisiestasie ontsnap het.

Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, sê die drie het vermoedelik tussen Woensdagaand 22 Februarie en Donderdagoggend 23 Februarie deur hul sel se dak ontsnap.

Die verdagtes het glo ’n gedeelte van die oorhoofse staalraamwerk oopgesaag en daardeur geklim.

Beamptes aan diens het glo die verdagtes agterna gesit, maar hulle het weggekom.

Van links na regs, Walter Majecha, Mathews Vengai en Godknows Goreborn.

Lt. kol. Annemarie Smith sê die een verdagte, Walter Majecha, was ’n verhoorafwagtende.

Majecha is in Mei 2021 in die Bela-Bela-township in hegtenis geneem nadat hy van verkragting aangekla is. Hy is daarvan beskuldig dat hy onwettig in die land is.

Die ander twee, Mathews Vengai en Godknows Goreborn, is in Februarie vanjaar in die Bela-Bela-landdroshof gevonnis nadat die hof verklaar het hulle is onwettige immigrante.

Hulle is vroeër in Pienaarsrivier in hegtenis geneem.

Smith sê Vengai en Goreborn was in die proses om gedeporteer te word. Al drie mans is van Zimbabwe.

Phetla sê die polisie doen reeds ’n interne ondersoek na die ontsnapping. Die verdagtes is steeds op vrye voet.

Indien inwoners die verdagtes opmerk, word hulle aangemoedig om dadelik die polisiestasie te kontak by tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614.

  • Ander belangrike nommers is Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, by tel. 082 565 8512, lt. kol. Piet Maswanganyi, sigbare polisiëringbevelvoerder by tel. 082 414 2704 en lt. kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, by tel. 082 319 9336.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button