Crime

Só konkel bankbedrieërs oor die telefoon

Inwoners moet op hul hoede wees wanneer hulle ’n oproep ontvang van hul bank af.

Selfs al klink die persoon wat skakel baie professioneel en geloofwaardig, kan dit ’n lokval wees om jou inligting — en jou geld — te bekom.

AO Pieter Booyse van die Modimolle-polisie waarsku dat hulle ’n toename van gevalle sien waar iemand hulself tydens ’n telefoonoproep voordoen as ’n bankampteenaar. Dit is egter nie die geval nie en sodra inwoners van hul inligting verskaf, word daar geld uit hul rekeninge onttrek.

Die Pos het voorheen al berig dat inwoners ’n oproep ontvang van iemand wat sê dat hulle van die bank se bedrog-eenheid is en dat daar ’n verdagte transaksie op die rekening was. Die inwoner is dan angstig om te keer dat hul geld gesteel word en verskaf die eenmalige sekuriteitskode (OTP) wat hulle van die “bank” af ontvang het. Die bedrieër het dan toegang tot die rekening.

“Die eerste ding wat hulle doen is om die persoon se selfoonnommer wat aan die rekening gekoppel is te verwyder. Dit beteken dat hulle nie boodskappe van die bank af ontvang wat aandui dat geld onttrek word nie. Geld word dan vanuit daardie rekening oorgeplaas en tussen verskeie ander rekeninge rondgeskuif, wat dit moeilik maak om op te spoor,” het Booyse gesê.

Hy raai inwoners aan om eerder self hul banktak te besoek. Inwoners kan ook die oproep beëindig en so gou moontlik self die bank se bedrog-eenheid skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button