Crime

Jagter se dogter in die getuiebank

Die vrou van die beroepsjagter wat vier jaar gelede in sy huis op die Koro Creek-gholflandgoed geskiet is, het vandeesweek in die hooggeregshof in Polokwane verskyn.

Chrisna van der Merwe (45) ontken skuld op aanklagte van moord en diefstal.

Die gemeenskap van Modimolle was verslae ná die moord in die luukse huis op die gholflandgoed op 11 Desember 2018.

Die Pos het destyds berig Botes van der Merwe is ná verskeie skote dood in die badkamer van die hoofslaapkamer aangetref en Chrisna in die slaapkamer. Sy het ’n ernstige maagwond gehad en is per helikopter na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion geneem vir ’n noodoperasie.

Die egpaar het glo die aand van die voorval saam met Botes se dogter en een van haar vriendinne by die huis gebraai.

Die diefstalklag spruit uit ’n bewering dat ’n bedrag van R141 000 sowat 10 dae ná Botes se dood uit sy onderneming, Botes Hunting Safaris, se rekening onttrek is. Chrisna voer aan dat die geld gebruik is om nodige lewenskostes te dek.

Volgens die staatsaanklaer, adv. Nkhetheni Munyai, ontken Chrisna die klagtes teen haar.

Botes se dogter uit ’n vorige huwelik, Celiné van der Merwe, het op Maandag 13 Februarie getuig.

Munyai het gesê dat die saak op Woensdag 15 Februarie sou voortgaan met Celiné se vriendin, Nadine van Deventer, asook die eerste polisiebeampte wat op die toneel was, wat getuig. ’n Verdere hofdatum sou Woensdag vasgestel word.

Die saak word aangehoor deur waarnemende regter Karen Pillay.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button