Crime

Rowers gryp sak met duisende rande

’n Onderneming in Modimolle is derduisende rande kwyt nadat twee rowers toegeslaan het op ’n werknemer wat op pad was om geld te gaan bank.

Volgens AO. James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, was die man op pad om sowat R80 000 vir sy werkgewer te deponeer by ’n bank in ’n winkelsentrum. Die voorval het op Maandag 6 Februarie om ongeveer 09:40 gebeur.

“Een van die rowers het die man van agter gegryp terwyl die ander aanvaller sy wapen uitgehaal en die sak met die geld gegryp het. Hulle het daarna op vlug geslaan,” het Findlay gesê.

Die voorval het plaasgevind ten spyte daarvan dat die werknemer gereeld sy roetine verander en waaksaam is, het hy gewaarsku.

“Die twee verdagtes is dieselfde dag reeds aangekeer. Daar is ’n moontlikheid dat hulle met soortelyke misdade verbind kan word.”

  • In nog ’n voorval is ’n man van sy motor beroof nadat hy twee mans ’n saamrygeleentheid gegee het. Die man, wat op Donderdag 9 Februarie vanaf Polokwane op pad was, het ’n gehuurde Toyota Urban Cruiser bestuur. Die passasiers het glo in die omgewing van Castle de Wildt, buite Modimolle aangedui dat die plaas waar hulle woon in die omgewing is. Die slagoffer het van die pad getrek waarna een van die mans hom van agter om die nek gegryp en gewurg het. Die aanvaller wat voor gesit het, het sy hande vasgegryp. Die man is daarna uit die motor gedwing en die aanvallers is vort met die voertuig.

“Die motor is later verlate op die R33-pad gevind waar dit teen ’n reling gebots het,” het Findlay gesê. Die verdagtes is nog op vrye voet.

Die Modimolle-polisie waarsku motoriste om versigtig te wees wanneer hulle links draai by die oprit vanaf die tolhek. “Wees op die uitkyk vir verdagte persone en omstandighede,” het Findlay gewaarsku.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button