Crime

Bedrog ondersoek by lisensiekantoor

Die lisensiekantore van die Bela-Bela-munisipaliteit was verlede week gesluit nadat amptenare van die Limpopo-verkeersdepartement opgedaag het om ondersoek by dié afdeling in te stel.

Geen dienste of lisensieaansoeke kon vanaf Woensdag 8 Februarie by die kantore gedoen word nie.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela polisiespeurtakhoof, is ’n klag van bedrog deur ’n munisipale amptenaar wat betrokke is by die lisensieafdeling, by die Bela-Bela-polisiestasie op Dinsdag 24 Januarie aanhangig gemaak.

Die klagte hou glo verband met bewerings van onregmatige transaksies by die uitreiking van lisensies en lisensieskywe.

Smith het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat ’n amptenaar vermoedelik wederregtelik toegang tot die stelsel verkry het.

Die polisie, asook die provinsiale verkeersdepartement, is steeds besig met die ondersoek. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Rika Kruger, DA-raadslid, het teen druktyd aangedui dat die lisensieafdeling waarskynlik vir nog ’n week gesluit sal wees totdat die ondersoekwerk voltooi is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button