Crime

Seun se fiets gesteel — gemeenskap help

Die gemeenskap van Bela-Bela het onomwonde gewys dat hulle harte warm klop vir kinders se nood.

’n Jong seun van Bela-Bela se fiets is die afgelope naweek by ’n sentrum in die dorp gesteel. Nadat sy ma ’n pleidooi op een van die dorp se gemeenskapsgroepe geplaas het wat vra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir die gesteelde fiets, het inwoners in die stilligheid ’n groepie gestig om geld in te samel om die seun se fiets te vervang.

Die fiets het behoort aan Zane Greyling (11), ’n tuisonderrigleerder. Hy en sy gesin woon in Bospoort.

Volgens sy ma, Mariska, het sy en haar verloofde op Saterdag 4 Februarie op hul fietse na die Bosveld Mall-inkopiesentrum gery.

Sy vertel hulle het die fietse buite geparkeer, maar was geskok toe hulle met hul terugkeer sien Zane se fiets is gesteel.

“Ons was juis dorp toe om Zane se fiets te laat herstel. Ek het onmiddellik boodskappe op die ‘Jy Verdien Beter’-Whatsappgroep geplaas vir hulp,” het sy gesê.

“Ek het ook hulp gevra by Charmaine Griessel van die Warmbad Info-groep. Ek het baie gehuil, want my kind se hart sou breek as hy weet sy fiets is gesteel.”

Sy vertel dat Zane twee jaar gelede met outisme gediagnoseer is.

Hoewel hy stil en teruggetrokke is, het hy ’n natuurlike talent vir wiskunde en is hy altyd positief en stel belang in tegniese projekte.

Kort ná die diefstal het verskeie mense op die Info-groep begin boodskappe stuur en is die verlies omgekeer in ’n positiewe gemeenskapsuitreiking.

Danksy privaat skenkings het Zane op Maandag 6 Februarie ’n splinternuwe fiets as geskenk ontvang.

Hy en sy gesin was oorstelp van vreugde en is baie dankbaar teenoor die weldoeners.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir die mense wat bymekaar gekom het om ons te help. Ons waardeer almal ongelooflik baie.”

Die diefstal is onder die aandag van die inkopiesentrumbestuur gebring en geniet aandag.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button