Crime

Vandale bedrywig in Mookgophong

"Ons is moeg vir die vandalisme!" het Trevor Webster van die verkeersafdeling gesê.

Vandale het Sondagnag 23 Januarie stoptekens by die gevaarlike kruising by Hoërskool Hans Strijdom en die pad na Die Oog (Nelson Mandela-rylaan) verwyder.

Dit volg nadat sakelui en inwoners in 2022 alle stoptekens wat deur vandale in Mookgophong beskadig is, vervang het.

“Ons is moeg vir die vandalisme en het ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging by die polisie in Mookgophong geopen. Wie ook al verantwoordelik is vir die skade, sal hierdie keer vervolg word. Ons het voorheen geskik, maar gaan dit nie weer doen nie,” het Trevor Webster van die verkeersafdeling gesê.

Webster het gesê die stoptekens (paal uitgesluit), met die voorbereiding en arbeid, kos al bykans R2 000 elk. Indien ’n ongeluk plaasvind weens die verwyderde stoptekens, kan die skuldiges verdere vervolging in die gesig staar. Boonop is privaat eiendom ook beskadig. ’n Inwoner in 9de Straat se ingang is versper met die stoptekens wat verwyder is. Verskeie eiendomsagente se borde, ’n kwekery se naambord en potte met plante het ook deurgeloop.

Volgens die polisie is daar leidrade wat opgevolg word en behoort die skuldiges binnekort aangekeer word. Inwoners word versoek om vandalisme aan te meld by die polisie en op veiligheidsgroepe.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button