Crime

Vermeende wildstropers in hegtenis geneem

Die polisie het die afgelope Desember-vakansie 10 vermeende wildstropers in Mokopane en Mookgophong in hegtenis geneem. Die mans is volgens die polisie met renosterhorings en vlakvarkkarkasse in hul besit betrap.

Luidens ’n verklaring van die provinsiale polisie is vyf vermeende renosterstropers op Vrydag 9 Desember in die Leyden-nedersetting in die Tinmyne-omgewing, buite Mokopane, aangekeer.

Daar is ongelisensieërde vuurwapens met ’n knaldemper, ammunisie en renosterhorings gevind. Daar is beslag gelê op ’n rooi Volkswagen met Gauteng- nommerplate.

Dit het gevolg nadat booswigte glo renosters op ’n wildspaas in die Dorset-omgewing geteiken het.

Twee renosterkoeie is volgens die polisie-verklaring doodgeskiet en daarna onthoring.

Die verdagtes, met ouderdomme wat wissel van 25 tot 40, staan die landdroshof in Mokopane op verskeie aanklagte tereg.

Die polisie het op Donderdag 12 Januarie vyf verdagtes aangekeer nadat daar ’n voertuigongeluk in die Boekenhout/ Grootvlei-omgewing buite Mookgophong plaasgevind het.

AfriForum het in ’n verklaring gesê hul Naboomspruit-buurtwaglede, in samewerking met die polisie, het in die weke vooraf ondersoek ingestel nadat wildstropery in die omgewing aangemeld is.

Die lede kon hul oë glo nie toe hulle uitgeroep is na die ongelukstoneel en in die voertuig op vlakvarkkarkasse, ’n aantal honde en gereedskap wat glo gebruik word om wild te stroop, afkom.

Die vyf verdagtes het reeds in die hof verskyn.
“Misdaad kan doeltreffend bekamp word met goeie samewerking tussen veiligheidsgroepe en die polisie. Die Naboomspruit-buurtwag het ’n goeie verhouding met die polisie en werk saam om die gemeenskap te beveilig,” het Louw Pretorius, leier van die Naboomspruit-buurtwag, gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button