Crime

Bejaarde vroue loop bloutjie met herstelwerk

Twee bejaarde vroue van Bela-Bela het die afgelope week by Die Pos aangeklop om ander inwoners te waarsku teen ’n man wat hulle in die straat genader en hulp aangebied het met herstelwerk aan hul voertuie.

Die vroue, wat anoniem wou bly, is afsonderlik tussen Donderdag 12 en Vrydag 13 Januarie in die omgewing van die Warmbad Dierekliniek deur ’n man genader wat aangebied het om hul windskerms te herstel.

Die een vrou beweer daar was niks fout met haar motor se voorruit toe sy uitgeklim het nie, maar nadat die man haar genader het om die ruit te herstel, het sy tot haar verbasing gevind dat daar ’n kraak in die ruit is.

Die ander vrou het gesê daar was wel krake in haar voorruit.

Albei vroue het gesê die man het aan hulle gesê dat hy die voorruite kan herstel teen ’n fraksie van die prys wat hulle by ’n sake-onderneming sou betaal. Hy het hulle elk R500 gevra en het aan albei vroue ’n bewys van betaling (kwitansie) uitgeskryf.

Die man het hom vinnig uit die voete gemaak sonder om die ruite te herstel toe hy betaal is.

Die vroue het gesê hulle wil ander inwoners waarsku om nie ook vir die man se slenter te val nie.

Die Pos het die klagte onder die aandag van die RSRT-buurtwag gebring.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button