Crime

Talle moordsake in Kersgety onder die soeklig geplaas

Die Bela-Bela-polisie het ’n moeilike en besige feesseisoen agter die rug nadat daar drie verskillende moordsake aangemeld is.

’n Man en vrou is op Woensdag 21 Desember by hul woning in die Mabalingwe-natuurreservaat dood aangetref.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, blyk dit dat die man sy vrou doodgeslaan en daarna sy eie lewe geneem het.

“Hul liggame was in ’n gevorderde stadium van ontbinding toe dit ontdek is. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die man sy vrou vermoedelik met ’n hamer doodgeslaan en homself daarna opgehang het.”

Die oorledenes se name is bekendgemaak as MacFalen Kumbane (65) en sy vrou, Grace Kumbane (55). Hulle is oorspronklik van Malawië, het Smith gesê.

Alyscia Wessels, operasionele bestuurder van die Mabalingwe-natuurreservaat, het gesê hulle weet nie presies wie die oorledenes was nie en dat hulle moontlik vir ’n ander maatskappy in die groter Mabalingwe-natuurreservaat gewerk het.

Die oorledenes se familie is reeds van hul afsterwe in kennis gestel. Die polisie ondersoek die saak verder. Verdere navrae is teen druktyd nie beantwoord nie.


  • Twee vroue-passasiers is op Donderdag 22 Desember doodgeskiet in ’n bus wat op die N1-snelweg na Zimbabwe onderweg was.
    Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoorvoerder, het in ’n verklaring gesê drie verdagtes het in die vroeë oggendure ’n gewapende rooftog in die bus uitgevoer.

Die bus, wat aan die Copperbelt-busmaatskappy behoort het, was onderweg van Pretoria na Harare.

Die rowers het vermoedelik saam met die passasiers in Pretoria op die bus geklim en die rooftog net ná die Mantsole-weegbrug uitgevoer, het hy gesê.

“Een van die verdagtes het ’n vuurwapen uitgepluk en ’n gat deur die voorste ruit geskiet. Dit het die busbestuurder gedwing om die bus tot stilstand te bring. Een van die verdagtes het op die vroue geskiet waarna twee gesterf en een ernstig gewond is.”

Die passasiers is beveel om die bus te verlaat en buite op die grond te lê. Hulle is van onder meer kontant, selfone en paspoorte beroof.

Die verdagtes is kort ná die rooftog deur ’n onbekende voertuig opgelaai. Die polisie vermoed dat die voertuig die bus van Pretoria af gevolg het, het Mojapelo gesê.

Die polisie ondersoek klagtes van moord, poging tot moord en gewapende roof.

“’n Week voor hierdie voorval plaasgevind het, is ’n soortgelyke voorval in die Hammanskraal-omgewing aangemeld. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat dieselfde verdagtes betrokke is.”

Enigeen wat inligting oor die voorval het, kan vir kapt. Dana Smith bel by tel. 081 577 4383.


  • Twee broers verskyn in die Bela-Bela-landdroshof op ’n moordaanklag. ’n Man is luidens die klagstaat op Maandag 26 Desember in die Bela-Bela-township doodgesteek.

Volgens Smith het die moord in die Zuma View-uitbreiding plaasgevind nadat daar glo ’n onderonsie was tussen die oorledene, Johannes Mokonyane (24), en die broers Piet en Frans Mafokane.

Die voorval het omstreeks 03:00 die oggend plaasgevind.

Die Mafokane-broers se saak is uitgestel na Dinsdag 10 Januarie wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button