Crime

Skote klap naby laerskool in Bela-Bela

Die rustige Bela-Bela-woonbuurt naby Laerskool Warmbad het op Woensdag 4 Januarie in ’n oorlogsone ontaard nadat polisiebeamptes en vermeende rowers verskeie skote op mekaar geskiet het.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het rowers kort tevore ’n vragmotorbestuurder en sy passasier naby die Kromdraai-kruising op die Thabazimbi-pad geteiken.
Sover vasgestel kon word het drie rowers in ’n Volkswagen Golf die vragmotor van die pad gedwing en die slagoffers met vuurwapens aangehou.

Die mans het slegs met ’n rugsak van die slagoffers weggekom, het Smith gesê.

“Die polisie is van die rooftog in kennis gestel en hulle het die verdagtes in die dorp voorgelê. Die verdagtes se voertuig is aanvanklik naby SuperSpar opgemerk waarna ’n jaagtog gevolg het wat uiteindelik in De Beerstraat by die laerskool geëindig het.”

Een verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en ’n vuurwapen is in sy besit gevind, het Smith gesê. Sover vasgestel kan word is niemand beseer nie.

Twee verdagtes het egter die polisie ontduik en op die vlug geslaan.

Volgens Smith is die vuurwapen wat in die verdagtes se voertuig gevind is, se unieke kode afgevyl.

Charles Maribe het reeds in die Thabazimbi-landdroshof verskyn op aanklag van roof. Hy verskyn weer op Vrydag 27 Januarie.

Hy verskyn afsonderlik in die Bela-Bela-landdroshof op aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen. Maribe bly in aanhouding.

  • Die Gemeenskappolisiëringsforum (GPF)-verteenwoordigers doen weer ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by buurtwagstrukture en om die oë en ore van die gemeenskap te wees.

Navrae en verdagte aktiwiteit kan aangemeld word by Chris Esterhuizen, GPF-voorsitter, by tel. 082 807 7933 of aan Gerhard Olivier, RSRT-buurtwagvoorsitter, by tel. 079 527 9988.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button