Crime

Polisie het hande vol met wetstoepassing oor Kerstyd

Twee vermeende kapers het hul rieme styfgeloop toe hulle glo op Donderdag 29 Desember ’n vragmotor vol kruideniersware op die N1-snelweg, naby Pienaarsrivier, gekaap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 19:30 op die snelweg plaasgevind toe ’n afleweringsvoertuig
vanaf Bela-Bela na Gauteng onderweg was.

“Die verdagtes is glo deel van ’n sindikaat wat betrokke is by vragmotorkapings wat in verskeie provinsies plaasgevind het. Die verdagtes het in ’n wit Toyota Corolla gery en die bestuurder van die vragmotor daarmee van die pad gedwing,” het hy gesê.

Twee verdagtes het glo die vragmotorbestuurder met ’n vuurwapen aangehou, hom in die Corolla gedwing en ontvoer.

Die trok, Corolla en ’n Ford Ranger-bakkie wat deur ’n ander verdagtes bestuur is, het glo almal in die rigting van Pretoria op die snelweg gery.

Die Bela-Bela en Hammanskraal-polisie is ingelig oor die voorval en het blitsvinnig opgetree, het Mojapelo gesê.

Die verdagtes is by die Carousel-tolhek voorgelê waarna ’n skietery tussen die polisie en hulle plaasgevind het.

Twee verdagtes wat in die Ford was, het hulself oorgegee.

Die verdagte wat die vragmotor bestuur het, het die veld in gevlug en word steeds gesoek. Die vierde verdagte, wat die Corolla met die vragmotorbestuurder in, bestuur het, het in die rigting van Tembisa gevlug. Die vragmotorbestuurder is later ongedeerd in dié omgewing afgelaai, het Mojapelo gesê.

Die mans wat in hegtenis geneem is, is onderskeidelik 33 en 57 jaar oud en het reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot kaping, opsetlike saakbeskadiging, poging tot moord en die besit van gesteelde eiendom.

Die saak is uitgestel tot Vrydag 13 Januarie wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen. Hulle name was teen druktyd nog onbekend.

Indien die publiek inligting het oor die voorval, kan hulle vir kapt. Aviva Mogolelwa bel by tel. 082 565 7966.

  • Die Bela-Bela-polisie het dieselfde dag ook sukses behaal nadat die uitgebreide veiligheidskamera-netwerk in die Waterberg-omgewing ’n verdagte voertuig opgemerk het.
    Lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, sê die betrokke voertuig — ’n wit BMW met Gautengse nommerplate — is langer as ’n maand tussen Modimolle en Bela-Bela dopgehou.

Volgens die polisie word die voertuig verbind met diefstalvoorvalle in die omgewing.

Beamptes het die voertuig buite Bela-Bela afgetrek en twee verdagtes met vermoedelik gesteelde eiendom in die motor aangetref.

Smith sê die verdagtes het vermoedelik vroeër by ’n eiendom in Moffatstraat ingebreek terwyl die eienaar nie tuis was nie.

Die verdagtes, George Nkuna en Johannes Nozwayo, is in aanhouding en verskyn weer op Dinsdag 10 Januarie wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button