Crime

Valke-kaptein verskyn vir bedrog

’n Polisiekaptein van Pretoria is aan die begin van Desember in hegtenis geneem weens bedrog wat glo in Bela-Bela gepleeg is.

Die 52-jarige vrouekaptein is verbonde aan die Inspektoraat vir Prioriteitsmisdade (die Valke) in Pretoria, lui ’n verklaring deur die polisie.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, is die kaptein van korrupsie aangekla nadat ’n voorval op Saterdag 10 Desember in Bela-Bela plaasgevind het.

Die klaer in die saak voer aan dat die vrouekaptein hom genader en beweer het dat daar bedrog op sy bankrekening gepleeg is en dat die rekening gesluit moet word. Die kaptein het na bewering R250 000 van die klaer geëis om te keer dat sy rekening gesluit word.

Die klaer het die polisie genader waarna ’n klopjag uitgevoer is toe geld glo aan haar betaal is.

Die Pos het verneem dat die kaptein glo op Maandag 19 Desember in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het.

Die Pos het navraag by die landdroshof gedoen, maar volgens die hofbestuurder het hulle geen magtiging om enige inligting oor die saak aan die media te verskaf nie.

Kapt. Matimba Maluleka, Valke-woordvoerder, het alle navrae terug na Mojapelo verwys wat die aanvanklike verklaring uitgereik het, maar het nie op Die Pos se opvolgnavrae gereageer nie.

Die Pos het tog daarin geslaag om die identiteit van die verdagte te bevestig as Salome Rabaji.

Sy verskyn weer op Woensdag 29 Maart in die hof.

Die saak word verder ondersoek deur die polisie se provinsiale korrupsie-eenheid.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button