Crime

Kabeldief loop nié sy rieme styf

Inwoners van Bela-Bela se verligting nadat ’n vermeende koperkabeldief in hegtenis geneem is, het in teleurstelling ontaard nadat die man skotvry daarvan afgekom het.

Bela-Bela word al geruime tyd deur koperkabeldiewe geteister. Straatligte, wat onlangs teen groot koste herstel is, se kragkomponente en elektriese kabels word gereeld gesteel.

Gerhard Olivier, RSRT-buurtwagvoorsitter, het aan Die Pos gesê ’n buurtwaglid het hom die oggend van Dinsdag 29 November gekontak oor ’n verdagte man in Mentzlaan.

“Die lid het die man van ongeveer 09:00 af dopgehou. Die man is ondervra terwyl lede van PRSS- sekuriteit opgedaag het om bystand te verleen. Die man het geweier dat ons hom deursoek, maar ons het daarin geslaag om die sak wat hy by hom gehad het, af te neem. Daarin het ons verskeie kabels, asook gereedskap, gekry.”

Die groep het die man na die polisiestasie geneem vir verdere ondersoek omdat hulle vermoed het hy is verantwoordelik vir ’n vlaag diefstalle wat in die omgewing plaasgevind het.

“Die speurders het ons by die stasie ontmoet. Die man het kort daarna probeer ontsnap, maar is vinnig in aanhouding geplaas.”

Weens die aard van die kabels en toerusting wat by hom gevind is, het ’n departementshoof van die Bela-Bela-munisipaliteit dieselfde dag ’n saak teen die man geopen.

Die verdagte is aanvanklik aangekla in terme van die wysigingswet op kriminele- en verwante aangeleenthede nadat daar beweer is dat hy noodsaaklike infrastruktuur beskadig het. Die saak is egter later verander na ’n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Dit het kort daarna aan die lig gekom dat die verdagte se saak nie op die hofrol geplaas is nie. Die verdagte is daarna vrygelaat.

Die polisie het teen druktyd bevestig dat die betrokke man ’n vorige oortreder is en by dwelmverwante sake betrokke was.

  • Die polisie raai inwoners steeds aan om enige verdagte aktiwiteit in hul omgewing te moniteer en aan te meld. Deeglike rekordhouding, selfs beeldmateriaal van ’n voorval, is noodsaaklike bewysstukke om verdagtes suksesvol in hegtenis te neem en te verhoor.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button