Crime

Twee vermeende verkragters van Vaalwater vasgetrek

Die plaaslike gesinsgeweld-tak (FCS) van die polisie het in November twee vermeende verkragters van Vaalwater in hegtenis geneem.

Sono Phillip Modibeng (59) is op Dinsdag 8 November vasgetrek deur die span onder leiding van die ondersoekbeampte AO Ciska Kruger. Modibeng het op Woensdag 9 November vlugtig in die Modimolle-streekhof verskyn op drie aanklagte van verkragting wat luidens die klagstaat in Mei 2013, November 2016 en Mei 2017 in die Vaalwater-omgewing plaasgevind het.

Die slagoffers se ouderdomme wissel van 17 tot 55 jaar. Hy word ook van roof aangekla omdat hy glo een van die slagoffers met ’n mes gedreig en van haar selfoon beroof het.

AO James Findlay, polisieverteenwoordiger, het gesê Modibeng is voorheen in Noordwes aan verkragting skuldig bevind. Volgens polisierekords is Modibeng ook vyf jaar tronkstraf opgelê weens huisbraak in die Lephalale (Ellisras)-omgewing.

Modibeng het weer op Donderdag 17 November in die Modimolle-hof verskyn waar sy aansoek om borgtog teengestaan is. Intussen word daar gewag op die amptelike DNS-verslag wat die jongste drie aanklagte betref. Hy bly tans in aanhouding totdat die saak weer op Maandag 23 Januarie 2023 in die Polokwane-hooggeregshof sal voorkom.

Die tweede vermeende verkragter, wat bekend staan as ’n ene Lefoane (35), het ook ’n vorige veroordeling. Hy is in 2007 tot 10 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van verkragting. Hy is in 2015 vrygelaat, maar word nou weer verbind met vyf aanklagte van verkragting in die Vaalwater-omgewing. Die voorvalle het volgens die polisie tussen 2015 en 2016 plaasgevind. Hy word ook verbind met twee aanklagte van huisbraak wat glo in 2006 en 2007 in Vaalwater en Lephalale gepleeg is.

Hoewel hy reeds in 2021 op aanklag van verkragting aangekla is, is hy eers op Maandag 21 November in Vaalwater in hegtenis geneem. Hy het op Dinsdag 22 November vlugtig in die Modimolle-streekhof verskyn en moet weer op Donderdag 1 Desember in die hof wees om vir borgtog aansoek te doen.

Volgens Findlay staan die staat sy borgaansoek teen en sal hy in aanhouding bly.

Die provinsiale kommisaris van polisie, lt. gen. Thembi Hadebe het die speurders se noukeurige ondersoek in hierdie saak, wat gelei het tot die inhegtenisneming van ’n verdagte wat lank gesoek is, geprys. Hy het gesê dit is die polisie se plig om die nodige ondersoekwerk te doen sodat gemeenskappe veilig kan voel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button