Crime

Polisie slaggereed om boewe tydens feesseisoen vas te vat

Inwoners van Bela-Bela het die afgelope week gewonder hoekom daar so baie sigbare polisiëring en padblokkades is.

Die polisie het met hul misdaadbekampingsprogram begin om misdaad in die feesseisoen hok te slaan.

Die polisie het op Donderdag 24 November ’n saamtrek agter die Bela-Bela-munisipaliteit gehou waartydens die plan om misdaad te bekamp aan rolspelers oorgedra is.

Lede van die polisie, verkeersafdeling, privaat veiligheidsdienste, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), buurtwagte, die Bela-Bela-munisipaliteit, taxi-verenigings en brandweerdiens was teenwoordig.

Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisie-stasiebevelvoerder, oorhandig die polisie se aksieplan vir die feesseisoen aan Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid (links). Saam met hulle staan Angie Serote (munisipale hoof van maatskaplike ontwikkeling), Phillip Seloane (waarnemende verkeershoof) en Daniël Thepe (GPF-voorsitter).

JeeDee Cloete, VF Plus-raadslid, het die plan namens Gloria Seleka, burgemeester, in ontvangs geneem.

’n Polisiekapelaan het tydens die opening gesê beamptes moet die publiek oortuig om binne die riglyne van die wet op te tree en sélf onberispelik in hul dienste wees.

“Daar was al beamptes wat hul werk kwyt is omdat hulle ’n skamele R50 omkoopgeld aanvaar het. Wees eerlike en opregte beamptes,” het die kapelaan gesê.

Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiebevelvoerder, het gesê die rolspelers het reeds verskeie suksesse behaal en hy glo die aksieplan sal help om die dorp veiliger te maak. Hy het SAPD-lede aangemoedig om te help om misdadigers vas te vat.

Phetla het gewaarsku dat die polisie sakelui wat drank aan minderjariges verkoop tydens die feesgety gaan vasvat. Hy het inwoners voorts gewaarsku om nie saamrygeleenthede van vreemdelinge te aanvaar nie, maar eerder van betroubare, openbare vervoer gebruik te maak.

Johan Vermeulen van die PRSS-veiligheidsmaatskappy wag dat die dag se verrigtinge begin. Hoewel hy nog herstel ná ’n onlangse voertuigongeluk, is hy reeds weer op sy pos om die veiligheid van inwoners te verseker.

“Misdadigers moet weet ons gaan hulle aanvat en toesluit. Bela-Bela moet hierdie feesseisoen ’n verbode plek wees vir enige misdadiger.”

Die publiek word aangeraai om die polisie of hul naaste veiligheidsverteenwoordiger te kontak indien verdagte aktiwiteit in hul omgewing plaasvind.

* Die Bela-Bela-polisie se aanklagkantoor kan gekontak word by tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614. Kol. Abel Phetla (stasiebevelvoerder), kan bereik word by tel. 082 565 8512, lt. kol. Piet Maswanganyi (sigbare polisiëringbevelvoerder) by tel. 082 414 2704, lt. kol. Annemarie Smith (speurtakhoof), by tel. 082 319 9336 of AO Johan Momberg (sektorbeampte) by tel. 082 729 0259.

Vir die RSRT-buurtwag bel vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988 of bel vir Chris Esterhuizen (GPF-voorsitter) by tel. 082 807 7933.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button