Crime

Bekende vulstasie sowat R170 000 kwyt ná diefstal

Die Swift Diesel-vulstasie in Bela-Bela was op Saterdag 12 November wéér die teiken van inbrekers en die finansiële skade beloop die keer sowat R170 000.

Die inbraak kon nie op ’n slegter tyd vir die eienaar, André Cordier, gekom het nie. Verlede jaar is daar ook by die vulstasie ingebreek, vertel hy.

Cordier was tydens die nuutste inbraak in Pretoria om sy dogter, wat in ’n hosptiaal opgeneem is, by te staan. Sy het gelukkig intussen herstel en is terug by die huis.

Die vulstasie was in die sorg van sy personeel terwyl hy uitstedig was.

Die Swift Diesel-vulstasie in Bela-Bela het derduisende rande skade gelei nadat booswigte by die perseel ingebreek en dit geplunder het.

“Soos ons dit verstaan het die diewe om 22:15 die aand verby die veiligheidstelsel gekruip wat beweging moniteer en veronderstel is om alarm te maak. Hulle het die ‘ogies’ toegeplak en met spreiverf bedek. Ek vermoed hulle het dit dalk reeds vroeër gedoen,” het Cordier gesê.

Die diewe het vermoedelik van die perseel verdwyn en later die oggend weer teruggekeer.

“Hulle is teen ongeveer 01:45 deur die kameras opgemerk waar hulle op die winkel se dak geklim en die dak op vyf plekke oopgesny het. Een van die plekke was reg bokant die radio-sender wat ’n waarskuwingsein na die veiligheidsmaatskappy sou stuur. Die gat wat hulle in my kantoor gemaak het, was reg bokant die kamera se sentralestelselboks.”

Die diewe het verder die diefwering aan die kombuis se kant afgebreek, ingeklim en die onderneming se kluis met ’n slypma-
sjien oopgesny.

“Al die kontant is gevat, asook al die sigarette en ander produkte wat op rakke was. Met geen sein wat die veiligheidsmaatskappy in kennis sou stel nie, het die inbrekers tot en met 04:00 genoeg tyd gehad om skoonskip te maak.”

’n Saak is Sondag by die Bela-Bela-polisie geopen.

“Die polisie het verklarings afgeneem, maar die forensiese afdeling het eers dae later die perseel besoek. Hulle het eers op Donderdag 17 November opgedaag. Ek kon nie langer wag nie, want die onderneming moet weer sake doen en opmaak vir die verlies.”

Sien ook beeldmateriaal van die voorval hier: https://fb.watch/g_RMVWPBls/

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button