Crime

Rowers agter tralies ná rooftog by reservaat

Twee vermeende rowers is agter tralies nadat daar op Vrydag 4 November ’n rooftog by die Adventures with Elephants-reservaat in die Mabula-omgewing buite Bela-Bela plaasgevind het.

Sean Hensman, bestuurslid, het aan Die Pos gesê vier mans het die oggend omstreeks 07:00 by die reservaat aangekom. Hulle het hulself as besoekers voorgedoen.

“Die mans was netjies geklee en het ’n personeellid uitgevra oor ons handelsure. Die personeellid was in die proses om die winkel op die perseel oop te sluit toe die mans hom aangerand, gedreig en vasgebind het.”

Die mans het geld uit ’n kasregister en ’n paar snuisterye gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie is die voertuig in die rigting van Hammanskraal opgemerk en agtervolg.

Intussen is ’n tweede voertuig opgemerk waarin die gesteelde items glo oorgelaai is.

Die polisie kon daarin slaag om die een voertuig te agtervolg en twee verdagtes in hegtenis te neem. Die gesteelde items is egter nog nie gevind nie.

Die polisie ondersoek ’n aanklag van roof.

Die twee verdagtes sal binnekort in die Thabazimbi-landdroshof verskyn.

“Die plaaslike teenstropery-eenheid en die polisie was ongelooflik doeltreffend. Hulle het blitsig gereageer en danksy hul vinnige optrede is twee verdagtes reeds aangekeer,” het Hensman gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button