Crime

Weduwee se saak wéér uitgestel

Die familie van Botes van der Merwe (48), wat op 11 Desember 2018 in sy huis in die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle doodgeskiet is, sê die uitgerekte hofsaak is besig om sy familie uiters nadelig te raak.

Dit is nou bykans vier jaar ná die skietvoorval en steeds het die verhoor nog nie begin nie.

Botes se ouers, Jan en Janie van der Merwe, het destyds met die aanvang van die moordsaak teen sy vrou, Chrisna van der Merwe, gesê:

“Ons wil net berusting hê. Dit is ’n baie moeilike situasie.”

Celiné en Jané, Botes se dogters uit sy eerste huwelik, het ook gesê hulle “sal wag so lank as wat dit nodig is dat geregtigheid geskied”.

Chrisna van der Merwe (43), wat teregstaan weens die moord op haar beroepsjagterman, asook ’n aanklag van diefstal ter waarde van R141 000, se saak sou op Maandag 24 Oktober in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor word, maar is op die nippertjie weer uitgestel. Die nuwe verhoordatum is 13-17 Februarie 2023.

Die Pos het ’n prokureursbrief, gedateer 20 September 2022, gesien waarin Van der Merwe aandui dat adv. Piet Pistorius SC, voortaan haar regsverteenwoordiger sal wees. Hiermee saam dring sy en haar regsspan daarop aan dat sy vir ’n tweede keer aan sielkundige waarneming onderwerp moet word by ’n spesialis van hul keuse naamlik dr. Johan Albertus Smuts.

Volgens die brief was Smuts, ’n neuroloog by die Wilgers-hospitaal in Pretoria, glo vir ’n geruime tyd oorsee en nie beskikbaar vir konsultasies nie waarop die regspan vir uitstel gevra het. Die regter het hulle tot Vrydag 23 Desember geleentheid gegee om die verslag aan die staatsaanklaer en ondersoekspan te oorhandig.

Tydens Van der Merwe se vorige hofverskyning op Woensdag 18 Mei, het regter Ephraim Makgoba, regterpresident van Limpopo, haar as handelingsbevoeg verklaar aan die hand van die staat se psigiatriese verslag wat ’n diagnose van “malingering amnesia” bevind het. Dit is na aanleiding van die beskuldigde se beweer dat sy glad nie kan onthou wat tydens die skietvoorval gebeur het nie.

Van der Merwe se vorige regsverteenwoordiger, dr. Llewelyn Curlewis, is een van die land se voorste strafregkenners en is aan die regsfakulteit van die Universteit van Pretoria verbonde.

  • Botes van der Merwe was die eienaar van Botes Hunting Safaris wat veral buitelandse jagters ontvang het. Hy is op die betrokke aand drie keer met ’n 9 mm-pistool in die bors geskiet. Een van die skote het hom noodlottig in die hart getref. Sy liggaam is in die badkamer van die hoofslaapkamer in die egpaar se huis gevind.Luidens die klagstaat het Van der Merwe haarself glo in die maag geskiet nadat sy haar man geskiet het. Sy is vir sowat twee weke daarna in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion, Gauteng, behandel.

    Van der Merwe word ook van diefstal aangekla omdat sy na bewering R141 000 onregmatig uit haar man se bankrekening onttrek het. Sy ontken skuld op albei aanklagte.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button