Crime

Beurtkrag pootjie boere se protes

Die rustige dorpie, Roedtan, 46 km buite Mookgophong, het op Maandag 24 Oktober uit sy nate gebars toe honderde boere, plaaswerkers en inwoners van die omgewing vroegoggend die strate ingevaar het met hul bakkies, trekkers, stropers en ander plaasimplemente.

Baniere is rondgeswaai en plakkate oral aangebring soos wat die protesgangers na die landdroshof beweeg het om kapsie te maak teen plaasmoorde. Tussen die massas was ook politici en rolspelers van verskeie organisasies.

Met dié oprukprotes het die boere hul misnoë kom wys ná die onlangse moord op ’n jong boer van die omgewing, Nicky Janse van Rensburg (35). Die optog is deur die Potgie-
tersrus Distrik Landbou Unie (DLU) gereël.

Die boeregemeenskap is op Vrydag 7 Oktober geruk toe Janse van Rensburg gewetenloos op sy plaas Derdekraal deur vyf verdagtes aangerand en vermoor is. Janse van Rensburg se vriendin,Veronica Grobler, en ’n 15-jarige seun is met kabelbinders vasgebind. Hulle kon eers die volgende oggend hulp kry toe van die plaaswerkers op hulle afgekom het.

Die drie verdagtes buite die klein hofsaaltjie in Roedtan.

Drie van die mans wat vasgetrek is in Seshego buite Polokwane ná ’n intensiewe polisie-ondersoek, het in die hof verskyn op aanklagte van moord, twee van poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die drie is Velly Segwale (34), Lesiba Solly Segwale (44) en Malesela Mangena (33).

Al drie die verdagtes is van Seshego en ’n vierde beskuldigde moet eers daar verskyn vir ander misdade voordat hy vir Janse van Rensburg se moord in die hof sal verskyn. Die vyfde verdagte is nog nie aangekeer nie.

Die 15-jarige seun wat tydens die aanval vasgebind is, het saam met sy ma die hofverrigtinge bygewoon. Grobler, vriendin van Janse van Rensburg, is nie by die hofverrigtinge gesien nie.
Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU, was een van die handjievol mense wat in die hof toegelaat is.

Aktivis teen plaasmoorde, Petrus Sitho met sy wit kruis.

“Ons is hier omdat ons boere is en dit is wat ons wil doen. Dit is ons roeping om kos te voorsien aan ons land, Sub-Sahara en Afrika, maar ons word in die steek gelaat. Die regering moet iets doen aan misdaad in geheel en veral plaasmoorde.”

Terwyl die verrigtinge vir borgtog begin het, het die bekende aktivis teen plaasmoorde, Petrus Phakamile Sitho van Oos-Londen, buite met ’n wit kruis oor sy skouer gestap om sy misnoë te toon.

Beurtkrag het egter die borgaansoeke van die beskuldiges gekortwiek en hul saak is uitgestel na Woendag 26 Oktober in die landdroshof in Mookgophong. Hulle bly in aanhouding.

(Lees ook elders in hierdie week se uitgawe van Die Pos wat sê van die rolspelers wat die protes bygewoon het.)


Sien ook die volgende video’s op Die Pos se Facebook-blad:

https://fb.watch/gp_ulxnxKR/

https://fb.watch/gp_xFYHOa_/

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button