Crime

Wees waaksaam — inbrake is aan die toeneem

Met die feesseisoen op ons voorstoep word inwoners en toeriste gewaarsku om paraat te wees en seker te maak hulle het die nodige veiligheidsmaatreёls in plek.

Volgens AO Pieter Booyse van die gemeenskapspolisiёringsforum (GPF) in Modimolle word veral lodges, kampterreine en vakansieoorde deur booswigte geteiken. ’n Toenemende aantal voorvalle van huisbraak is die laaste paar naweke aangemeld.

Die toename in voorvalle gaan gepaard met die aanvang van die skoolvakansie (30 September), asook toeriste wat troues en jaareindfunksies in die omgewing bywoon.

Dit wil voorkom asof dit die vermeende inbrekers se modus operandi is om in die middernagtelike ure toe te slaan op niksvermoedende slapende kampeerders en gaste in kothuise of permanente tente. Daar word meestal selfone, beursies, kameras, skootrekenaars en juwele gebuit.

Booyse waarsku dat gaste liefs hul vuurwapens tuis moet laat indien daar nie ’n kluis by die lodge of oord is waar dit veilig toegesluit kan word nie.

Hy maan toeriste om nie hul persoonlike besittings oop en bloot op ’n toonbank of bedkassie te laat nie. Vensters moet ook saans, of wanneer gaste nie daar is nie, dig toegemaak word sodat booswigte nie maklik toegang tot hul blyplek kan verkry nie.

Hy stel voor dat lodges en vakansieoorde moet inskakel by die plaaslike veiligheidstrukture sodat hulle die uitgebreide kameranetwerkstelsels kan benut wat help dat booswigte vasgetrek word.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, is daar ook ’n toename in huisbraak in Modimolle, asook by plase in die omgewing. Inwoners word gemaan om nie hul huiswerkers of tuindienste in kennis te stel van die presiese tye wanneer hulle nie tuis is nie omdat hul wonings juis in daardie tyd geteiken kan word. Werkers weet gewoonlik presies waar al die sleutels gebêre word wat toegang vergemaklik en maak dat hulle waardevolle items en elektroniese toestelle kan steel.

Findlay vra dat inwoners hul besittings duidelik moet merk sodat dit makliker is vir die polisie om gesteelde goedere uit te ken en sodoende die skelms aan die pen te laat ry. Dis meestal outomatiese hekmotors, elektriese gereedskap en elektroniese toestelle wat gebuit word.

Toegang tot die wonings word gewoonlik verkry deur skuifdeure sonder veiligheidshekke of deur ’n venster wat oop staan, se diefwering af te sny of oop te breek. Huise wat grens aan oop erwe of ’n veld word ook meer geteiken omdat inbrekers vinnig oor die muur kan spring.

Rooftogte by sakeondernemings is ook aan die toeneem.Volgens Booyse werk die skelms gewoonlik in ’n groep van vier mense wat saam by die winkel of sakeonderneming inkom. Terwyl twee mense die eienaar of personeellede se aandag aftrek, is die ander twee besig om die winkel te besteel.

Sakelui of boere word aangeraai om gereeld hul roetine af te wissel met die uitbetaling van lone (in kontant) omdat booswigte gewoonlik vooraf weet wanneer die werkers betaling ontvang en juis dan toeslaan.

Voorvalle van huisbraak behoort so gou moontlik by die plaaslike polisiestasie aangemeld te word. Inwoners wat verdagte persone of aktiwiteite opmerk, kan die hulplyn by tel. 0860 010 111 skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button