Crime

Dierenalatigheid onder die soeklig

’n Inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Bela-Bela besoek nadat klagtes van dieremishandeling of nalatigheid aangemeld is.

Matome Semenya, ’n DBV-inspekteur, het op Maandag 17 Oktober sekere persele in die dorp besoek nadat lede van die Wyk 1-wykskomitee klagtes by die DBV gerapporteer het.

Die Pos het ook die afgelope tyd hele paar klagtes ontvang dat donkie-eienaars hul diere, asook ander huisdiere, mishandel.

Semenya het vertel hy is tans betrokke by ongeveer 10 hofsake oor dieremishandeling in Bela-Bela. Hy is ook betrokke by die DBV se donkie-bemagtigingseenheid.

“Ons span het al talle inligtingsessies met inwoners gehou om hul touwys te maak oor die belangrikheid daarvan om na die welstand van hul diere om te sien. As ’n dier vir jou iets beteken — hetsy om vir jou geld te maak (soos donkiekarre) of lojaliteit en veiligheid, is jy verplig om na hulle om te sien,” het hy gesê.

Die Pos het Semenya vergesel. By die eerste adres in die omgewing van die departement van openbare werke se kantore in Luna- en Van der Merwestraat, is daar op twee honde afgekom wat aangehou word in ’n plek wat talle tekortkominge gehad het.

Daar was ’n klomp gate in die heining en die honde leef tussen die vullis. Die honde se drinkwater was vuil en hulle het sere agter hul ore gehad. Die hoofhek van die perseel het wawyd oop gestaan. Verder het die honde se ontlasting die erf volgelê en daar was oral vlieë.

Een hond was aan ’n oorhoofse draad (soos ’n wasgoedlyn) vasgemaak. Dié hond se ketting en halsband was aan die draad gekoppel wat haar darem effens beweeg-
ruimte gegee het.

Semenya het gesê hierdie soort lyndraad is aanvaarbaar, maar eienaars behoort dit eerder op die grond te span.

“Honde-eienaars moet hul diere se ontlasting gereeld skoonmaak. Die sere wat agter hul ore ontstaan, is weens die onhigiëniese toestand op erwe.”

Die eienaars was gewaarsku om die erf se toestand te verbeter en om die honde na die veearts te neem. Hulle het aan Die Pos gesê hulle hou die honde aan om die veiligheid van die perseel te verseker omdat daar gereeld diewe op die perseel is. Hulle het egter dit goedgedink om een van hul honde in die sorg van die DBV te laat.

By die tweede perseel is ’n boerboel op ’n vervalle erf aangetref. Dié betrokke eiendom, oorkant Laerskool Warmbad, het vroeër vanjaar afgebrand.

Die eienaars van die perseel het aangedui dat hul huidige omstandighede nie toelaat dat hulle die hond by hul huidige woning (’n ander adres) kan aanhou nie.

Hulle besoek wel die hond op die vervalle erf daagliks om vir hom kos en water te gee en hulle sorg dat hy oefening kry. Hulle het aangedui dat hulle baie omgee vir dié boerboel.

Semenya het versoek dat hulle die hond so gou as moontlik by ’n meer geskikte perseel huisves of die erf se infrastruktuur verbeter. Indien hulle dit nie doen nie, moet die DBV intree en die hond wegneem, het hy gesê.

“’n Boerboel is ’n unieke honderas met ’n baie unieke temperament. Hulle moet aandag kry en nie alleen gelaat word nie. Indien hulle afgeskeep word, kan hulle aggressief raak.”

Hy het aangedui dat die DBV altyd bereid is om te help en mense wat besorg is oor diere is welkom om die vereniging te kontak. Semenya is betrokke by die DBV se nasionale kantoor en verwys plaaslike sake vir opvolgwerk na die naaste DBV-tak, soos Mokopane.

  • Die nasionale DBV-kantoornommer is (011) 907 3590. Hul eposadres is nspca@nspca.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button