Crime

Meld dieremishandeling dadelik aan

Die mishandeling van diere, veral donkies, bly ’n ernstige oortreding. Enigeen wat betrap word dat hy of sy ’n dier mishandel, kan aangekla word en moet in die hof verskyn.

Die Pos is op Dinsdag 4 Oktober deur ’n inwoner gekontak wat ’n donkie-eienaar gekonfronteer het oor die gesondheid van sy donkies.

Die betrokke persoon het die donkiekar en dié se bestuurder op die R516-pad buite die dorp afgeneem en die foto’s met Die Pos gedeel. Die donkies het ooglopende beserings op hul rûe gehad wat na bewering deur die eienaar toegedien is.

Die inwoner beweer dat die Dierebeskermingsvereniging in Pretoria gekontak is vir hulp en vir optrede, maar nog geen terugvoer is ontvang nie. Volgens die Bela-Bela-polisie is die eienaar van die donkies nooit aangekla nie.

Die Have a Heart Foundation was die afgelope paar jaar in Bela-Bela betrokke om dieremishandeling te probeer hokslaan. Dié lede het egter vanjaar hul werksaamhede tot ’n einde gebring weens interne redes.

Lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het bevestig dat die lede die gebied verlaat het.

“Die betrokke groep is reeds weg, maar dit bly die polisie se plig om hierdie sake te ondersoek, omdat die wet ons daartoe verplig. Inwoners sal klagtes soos dié by ons moet rapporteer sodat ons kan optree,” het Smith gesê.

Sodra ’n saak geopen is, word dit gewoonweg deur die polisie se veediefstaleenheid verder ondersoek.

Klagtes kan aan die polisie gerapporteer word deur om die kliëntedienssentrum/aanklagkantoor te skakel by tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614.

Vir bykomende navrae kan mense vir kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, bel by tel. 082 565 8512; lt. kol. Piet Maswanganyi, sigbare polisiëringbevelvoerder by tel. 082 414 2704; lt. kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, by tel. 082 319 9336; of AO Johan Momberg, sektor-beampte, by tel. 082 729 0259.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button