Crime

Gesinsgeweld onder die vergrootglas

Gesinsgeweld is nie net fisieke aanranding nie, maar dit is ook wanneer ’n persoon jou onveilig laat voel, emosioneel mishandel deur jou te dreig en te intimideer en jou finansieel knou.

Gesinsgeweld het die afgelope tyd drasties in Suid Afrika toegeneem. Die Pos het met twee vroue-aktiviste gesels om te hoor hoe ’n mens uit ’n gewelddadige verhouding kan ontsnap. Volgens die Buro vir Justisie se statistiek word gemiddeld meer as drie vroue en een man daagliks deur hul lewensmaats in Suid Afrika vermoor.

In 70-80% van hierdie moorde, is die vrou fisiek mishandel voordat die moord plaasgevind het.

“Ek het gesinsgeweld oorleef en tydens my stryd was ek alleen. Ek het geen hulp- of ondersteuningstelsel gehad nie. Ek was bang en baie alleen. As gevolg hiervan het ek myself belowe om nooit iemand anders toe te laat om dit te ervaar nie,” het Zen Williams, stigter van RISE Up Against Domestic Violence, aan Die Pos gesê.

Williams, wat in Port Elizabeth woon, het aanvanklik ’n Facebookblad begin waar sy haar storie gedeel het. So baie mense het vir hulp gevra dat sy dadelik besef het hoe groot die behoefte is en so is RISE “gebore”. In September is meer as 7,3 miljoen mense op die blad bereik.

RISE bied gratis aanlynondersteuning en regsadvies aan slagoffers. Altesame 56 vrywilligers, insluitend ’n afgetrede landdros, werk in skofte op die groep en is 24 uur, sewe dae van die week, beskikbaar om hulp te bied.

“Ek het in September 2021 aangesluit om my eie storie met slagoffers te deel en is sedertien as ’n berader en vrywilliger daagliks op hierdie groep betrokke waar ons hoop en ondersteuning aan slagoffers, mans en vroue landwyd, bied,” het Antoinette Göldner van Mookgophong gesê.

Die eerste stap wat ’n slagoffer moet neem, is om te praat oor die geweld en mishandeling. Platforms soos RISE is ’n goeie plek om te begin. Slagoffers kan anoniem bly en ontvang onmiddellike hulp en ondersteuning.

“Voordat die slagoffer die gewelddadige persoon verlaat, is dit belangrik om aansoek te doen vir ’n beskermingsbevel om verdere mishandeling te verhinder,” het Williams gesê.

Slagoffers is dikwels ook bang om by familie, vriende en selfs kerke hulp te soek uit vrees dat die persoon wat hulle mishandel, dalk daarvan kan uitvind. RISE wil gemeenskappe bewusmaak van die groeiende probleem en daarom word inwoners van Mookgophong en die Die Pos se lesersgebied versoek om pers te dra op Vrydag 21 Oktober.

“Ek weet jy gaan deur ’n aaklige tyd, en ek weet jy voel daar is geen uitweg nie. Jy voel dalk alleen en bang, maar ek belowe jou: daar is lewe ná mishandeling en jy sal dit oorkom. Reik uit na mense wat jou veilig sal laat voel, organisasies wat hulp bied en plekke wat ’n veilige hawe het. Jy sal verbaas wees hoeveel ondersteuning daar is. Bly sterk en moenie moed opgee,” is Williams se boodskap aan slagoffers.

Enigeen wat donasies aan organisasies en plekke van veiligheid wil maak, kan Antoinette Göldner bel by 0661912233, David Fitzcharles by 071 758 7447 of Andre Van der Schyff by 083 491 21 29.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button