Crime

Rowers slaan toe op trokke

Twee trokdrywers was die afgelope twee weke die teiken van rowers in die omgewing van Bela-Bela en Settlers.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-polisiespeurtakhoof, het die eerste voorval op Vrydag 9 September in die Botha’s Vlei-omgewing in die Radium-omgewing plaasgevind.

Die voorval het glo rondom 09:00 gebeur toe ’n trokdrywer deur ’n groep gewapende rowers in ’n wit Polo Volkswagen aangehou is. Die rowers het R12 000 kontant, ’n selfoon en verskeie kaarte van die trokdrywer gebuit voordat hulle weggejaag het.

Die tweede voorval het op Donderdag 15 September in Settlers plaasgevind. Die drywer is geskiet en die trok gekaap, het Lodewyk Riekert, die trokeienaar wat in afleweringsdienste spesialiseer, by navraag gesê.

Riekert sê die voorval het vermoedelik tussen 01:00 en 02:00 die oggend plaasgevind. Sy bestuurder, wie se naam weerhou word, het aan Riekert gesê hy is deur twee voertuie, ’n Polo en ’n bakkie, van die pad gedwing en deur gewapende mans aangehou.

Die rowers het aangedring op kontant en sy selfoon en het die trok gekaap. Die trokbestuurder is gewond toe die rowers ’n skoot afgevuur en hom in die voet getref het voordat hulle op vlug geslaan het, het Riekert vertel.

’n Taxi-bestuurder het op die man afgekom en hulp aangebied.

“Ons sake gaan soos altyd aan ondanks die voorval. Ons is net bekommerd oor die stand van sake in die land,” het Riekert gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button