Crime

Rower doodgeskiet ná wrede plaasmoord

Een van die mans wat verdink word van ’n wrede plaasaanval in die Dwaalboom-omgewing buite Thabazimbi is in die vroeë oggendure van Dinsdag 6 September in Bela-Bela deur die polisie doodgeskiet.

Die Volkswagen Amarok-bakkie, asook die eiendom wat die rowers gesteel het, is deur die polisie teruggevind.

Marthinus en Elsie Richter het ’n nagmerrie-ervaring op hul plaas Vygeboom-poort gehad toe ’n groep rowers hulle in hul huis oorval het, het brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

“Die rowers het Marthinus vermoor waarna sy vrou met ’n vuurwarm voorwerp gemartel is. Die huis is geplunder waarna die rowers met twee televisies, vuurwapens, selfone en gereedskap op vlug geslaan het. Hulle het met die buit in die egpaar se Volkswagen Amarok in die rigting van Bela-Bela gevlug.”

Volgens ’n familielid van die Richters is Marthinus klaarblyklik na die Groot Marico- rivier geneem en daar vermoor.

Die koeëlgate aan die agterkant is nog duidelik sigbaar.

Die rowers het moontlik daarna vir Elsie gemartel, ontvoer en elders afgelaai. Elsie het eers rondom 02:00 te voet terug by haar woning gekom en hulp ontbied.

Die rowers was vermoedelik onder die indruk dat hulle genoeg tyd het om te vlug voordat die polisie op hulle sou toesak, het die familielid gesê.

Die Bela-Bela-polisie het, te danke aan die uitgebreide veiligheidkamerastelsel wat verdagte aktiwiteite in die omgewing moniteer, kennis geneem van die rowers se beweging en hulle op die hoek van Sutterweg en Potgieterstraat in Bela-Bela voorgelê.

Die polisie is bygestaan deur lede van die verkeersdepartement, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en PRSS sekuriteit.

Die polisie het die agterste bande van die Amarok stukkend geskiet nadat die rowers nie stilgehou het nie. Dit het die voertuig tot stilstand gedwing.

Die polisie het een van die rowers, wat voor langs die bestuurder gesit het, doodgeskiet toe hy uitgespring en ’n vuurwapen op hulle probeer rig het.

Die bestuurder in die voertuig is ook raakgeskiet. Hy is tans onder polisiebewaking by ’n plaaslike hospitaal.

Die voertuig, vyf vuurwapens en die ander gesteelde goedere is teruggevind, het Mojapelo gesê. ’n Speelgoedgeweer is ook gevind.

’n Vreemde voorwerp, wat na bewering muti is, is ook tydens die forensiese ondersoek agter in die bakkie gevind.

Bloedkolle van die gewonde verdagtes was duidelik in die bakkie sigbaar.

Mojapelo het gesê die twee vermeende rowers is plaaswerkers wat voorheen vir die Richters gewerk het. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat nog rowers by die plaasaanval betrokke was.

Marcelle Maritz, VF Plus provinsiale leier, het intussen besoek afgelê in Thabazimbi en bevestig dat Elsie in die Medi-Clinic hospitaal aansterk.

“Dit is duidelik dat die huidige strafregstelsel nie as voldoende afskrikmiddel vir hierdie soort misdaad dien nie. Ons eis al lankal dat plaasaanvalle tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word,” het sy gesê.

Die egpaar se familie het aan Die Pos gesê dat Marthinus voorheen as motorwerktuig-kundige in Rustenburg gewerk het. Hy het later op Elsie se familieplaas in Dwaalboom met beeste en saaigewasse geboer. Hulle het in die huis waar Elsie grootgeword het nesgeskrop.

Volgens Gawie Richter, Marthinus se pa se broer, was Marthinus ’n besonderse mens wat geleef het vir sy familie. Die familie is egter bekommerd oor Elsie, wat voorheen met kanker gediagnoseer is en baie onlangs vir nierprobleme behandel is.

Die familie was op Sondag 14 Augustus byeen om Gawie se 90ste verjaardag te vier. Marthinus het die Maandag 68 jaar oud geword. Marthinus en Elsie het vier kinders en ook kleinkinders.

  • Die doeltreffendheid van die veiligheidskamera-netwerk het sedert 2017 gesorg vir enorme sukses vir die polisie en veiligheidsbedryf. Die stelsel is aanvanklik deur die Kariba Buurtwag as ’n veiligheids-inisiatief begin.

Privaatskenkings en fondsinsamelings het daarvoor gesorg dat die netwerk uitgebrei kon word. Mense wat betrokke wil raak by die projek om hul gebied te beveilig, kan vir Kobus Germishuys ’n epos stuur na kobus@stilhoek.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button