Crime

Hofsaak teen sogenaamde ‘prokureursfirma’ weer uitgestel

Die hofsaak teen Yeolande Botes, eienaar van Leshole Legal (Pty.) Ltd, vir beweerde bedrog is op Woensdag, 31 Augustus in die Modimolle streekhof aangehoor en weer uitgestel.

Botes (41) wat haarself op 11 Mei by die Modimolle-polisiestasie oorgegee het, moet weer op 30 November in die hof verskyn.

Volgens die polisie is Leshole Legal se deure vir eers gesluit terwyl die ondersoek na die verskillende klagtes — wat strek vanaf 2016 tot 2021 — voortgaan. Die ondersoekbeampte, AO Eugene Clarence van Modimolle, het aan Die Pos gesê daar word tans 44 klagtes van beweerde bedrog van bykans R10,4 miljoen ondersoek.

Chris van der Merwe, ’n prokureur in Modimolle wat ’n hele aantal kliënte verteenwoordig, is reeds besig met ’n likwidasiesaak teen Leshole Legal, asook teen Botes in haar persoonlike hoedanigheid. Sodra die meester van die hof ’n likwidateur aangestel het, kan daar beslag gelê word op bates sodat ’n volledige forensiese oudit gedoen kan word.

Van die beweringe is dat Botes haar as ’n prokureur voorgedoen het wat sy in werklikheid nie is nie. Sy word ook daarvan beskuldig dat sy haarself as eksekuteur van ’n bestorwe boedel voorgedoen het om sodoende ’n eiendom te verkoop.

Ander klagtes lui dat sy na bewering dieselfde eiendom aan meer as een koper “verkoop” het. Sy het glo telkens daarop aangedring dat die kopers die volle koopsom of minstens die grootste gedeelte daarvan aan haar oorbetaal omdat daar kwansuis nog kopers is wat belangstel en glo ’n hoër aanbod gaan maak.

In die meeste gevalle is eiendomme na bewering nooit in die kopers se name geregistreer nie. Die sogenaamde trustrekening, wat slegs deur ’n prokureur geopen en bestuur kan word, bestaan na bewering ook nie.

Intussen word die bedrogsaak deur die spesiale handelsmisdaad-eenheid in Polokwane hanteer in samewerking met ’n ondersoekbeampte van Modimolle. Volgens Clarence moet die eenheid nog bevestig of die hofsaak in die Handelshof of in die Hooggeregshof in Polokwane aangehoor sal word.

  • Die spesiale handelsmisdaad-eenheid is deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) daargestel om ingewikkelde sake wat onder meer bedrog, geldverduistering, geldwassery of kubermisdaad insluit, noukeurig te ondersoek en te vervolg. Hierdie eenheid werk nou saam met die ondersoekbeamptes sodat oortreders aan die pen kan ry.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button