Crime

Man gevonnis ná aanranding op Marius Grobler

Die Bela-Bela-landdroshof het op Dinsdag 23 Augustus ’n man gevonnis ná die aanranding verlede jaar op Marius “Paaip” Grobler (68), bekende oudboer van die Springbokvlakte.

Grobler is in Mei vanjaar oorlede. Hy was ten tyde van sy dood ’n inwoner van die Warmbad Rusoord waar hy spesiale sorg ontvang het.

Grobler is in Augustus 2021 buite Bela-Bela aangerand nadat daar glo ’n onderonsie tussen hom en twee mans van Boksburg ontstaan het.

Daar is aanvanklik beweer dat Grobler se voertuig rakelings teen die bakkie waarin die mans gery het, geskuur het. Grobler was onderweg na sy huis op die Thaba Monate-
wildreservaat waar hy en sy vrou sedert 2018 gewoon het.

Grobler het tydens die voorval ernstige beserings opgedoen en dokters het aanbeveel dat hy dringend ’n heupvervangingsoperasie moet ondergaan.

Volgens sy familie het sy gesondheid gekwyn en hy het baie verswak weens voortdurende pyn.

Twee beskuldigdes, Gert Müller en John Robinson, het sedertdien in die hof verskyn op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Na Grobler se dood, is die aanklag verander tot een van poging tot moord, maar later is dit weer terug verander na aanranding met die opset om ernstig te beseer. Alle aanklagte teen Robinson is tydens die hofproses teruggetrek.

Müller is ’n opgeskorte vonnis van drie jaar tronkstraf opgelê. Bykomend tot die vonnis het die hof bepaal dat Müller R50 000 moet betaal vir Grobler se mediese koste.

Grobler se familie het by navraag gesê hulle het gehoop die hof sou ’n swaarder vonnis oplê, maar dat hulle dankbaar is dat die saak afgehandel is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button