Crime

N1-rowers slaan weer toe

’n Groep rowers het weer in die vroeë oggendure van Dinsdag 23 Augustus op die N1-snelweg toegeslaan deur voorwerpe in die pad te sit wat motorryers dwing om van die pad te trek waarna hulle beroof word.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-polisiespeurtakhoof, het die voorval teen ongeveer 02:45 tussen die Codrington- en Lehau-oorbrûe plaasgevind.

’n Motor en afleweringsvoertuig was onderweg na Pretoria om voorraad op te laai en terug te bring na ’n sakeonderneming in Bela-Bela.

Die motor het na verneem word ’n groot klip op die snelweg getref en ’n band het gebars.

Albei voertuie het stilgehou sodat die bestuurders die skade kon bepaal.

“Die klaer het aan die polisie gesê hulle het ’n bakkie aan die oorkant van die snelweg gesien stilhou, maar nie ag daarop geslaan nie omdat hulle gedink het dit is ’n voertuig wat van die pad getrek het sodat die bestuurder ’n draai kon loop. Die volgende oomblik het vier gewapende mans op die groep toegeslaan,” het Smith gesê.

Die slagoffers is hardhandig hanteer en gedwing om hul selfone en kontant aan die rowers te oorhandig, het Smith gesê.

Die rowers het met ’n aansienlike buit op die vlug geslaan.

Die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) is tans besig om die snelweg vanaf Pienaarsrivier tot in Bela-Bela op te gradeer en sekere padgedeeltes is beperk tot een rybaan.

Die polisie waarsku motorryers om op hul hoede te wees vir vreemde voorwerpe op die ryvlak wanneer hulle snags op die snelweg ry.

  • Daar was teen druktyd gerugte dat meer rooftogte dieselfde oggend op die snelweg plaasgevind het, maar dié sake is nog nie by die polisie aangemeld nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button